Polisiëring van Spaza-winkels in Oudtshoorn

Die lede van die verskillende rolspelers wat betrokke was by die operasie om te verseker dat die spaza-winkels in Oudtshoorn voldoen aan al die gesondheids- en wetlike vereistes. Foto: Lindi Brill

Verskeie rolspelers was Dinsdag, 23 Januarie, betrokke by ’n operasie om onwettige aktiwiteite by spaza-winkels in Oudtshoorn hok te slaan.

Die span het bestaan uit lede van die Oudtshoorn Polisie, wetstoepassers, die brandweer, die Departement van Gesondheid en Immigrasie dienste.

Die algemene doel van die operasie was om inspeksie te doen om seker te maak dat al die winkels aan die gesondheids- en wetlike vereistes voldoen.

Volgens sers Chris Spies, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, is tien van die winkels in Oudtshoorn besoek en ten minste drie van hulle is gesluit omdat hulle nie aan die nodige gesondheidsvereistes voldoen nie.

“Daar was egter geen arrestasies gemaak of enige items gekonfiskeer nie”, het Spies aan Die Hoorn gesê. (Deur Lindi Brill)