’N MEISIETJIE van 1 jaar en 8 maande, Shante Campher, het Sondag in ’n huisbrand in Ruiterstraat in Dysselsdorp gesterf.
Volgens kapt Joey Strydom, stasiebevelvoerder van die Dysselsdorp Polisie, het ’n argument omstreeks 14:00 tussen ’n ma en ’n 13-jarige seun ontstaan waartydens die seun ’n kers aan die brand gesteek en klere begin brand het.
Die huis, waarbinne sy sussie was, het ook aan die brand geslaan en die sussie kon nie gered word nie. Strydom sê die polisie ondersoek ’n saak van moord.
Intussen het ’n gemeenskapsleier van Dysselsdorp, Leon Campher, ’n beroep op mense gedoen om die getraumatiseerde ma en twee kinders te help om weer kop bo water te kry nadat hulle alles verloor het.
“Die ma en ander twee kinders het slegs die klere wat hulle aangehad het oor. Haar ID en kinders se klere en geboortesertifikate het alles uitgebrand. Enige iemand wat dalk ’n skenking wil maak in enige vorm kan my gerus skakel of WhatsApp of sms by 082 958 4348.”
Volgens Campher benodig die gesin meubels, kombuisware, kos en klere. Die ma se kleregrootte is 28 en skoengrootte 3. Sy het ’n 4-jarige dogter (skoengrootte 8) en seun (kleregroote 9 tot 10 jaar en skoengrootte 13 tot 1). (Deur Liesel le Roux)
