TWEE gevalle waarin inwoners binne enkele dae met messe gesteek is, het Oudtshoorniete die afgelope week laat vra: “Wat gaan op ons dorp aan?”
In die eerste geval het die slagoffer oorleef, maar in die tweede geval het Klaas Simmers (40) gesterf.
Volgens sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, is Simmers Maandag 30 November om 17:40 naby ’n winkel op die hoek van Jan Makai- en Avontuurstraat plaasgevind.
“Die polisie het ’n oproep ontvang van ’n persoon wat met ’n mes gesteek is. Met die aankoms op die toneel het hulle ’n persoon sien lê,” het sy gesê.
Simmers het volgens Michaels ’n steekwond aan sy bors gehad, en is op die toneel oorlede. ’n 22-jarige man is in hegtenis geneem op ’n klag van moord.
Volgens inwoners van die omgewing is dit die tweede tragedie wat Simmers se familie tref na groot skade in ’n huisbrand verlede jaar.
Geskokte inwoners het aan Die Hoorn gesê Simmers was nie iemand wat ander sou pla nie.
In die tweede voorval is ’n 21-jarige man Vrydag (27 November) om 11:00 in Hoogstraat aangeval waar hy in die ry gestaan het vir sy Covid-19-toelaag by die poskantoor. Michaels sê hy het steekwonde aan sy kop en regterhand opgedoen. ’n Saak van ernstige aanranding word ondersoek.
Sekuriteitskamera-beeldmateriaal van ’n deel van die voorval is later die dag op Oudtshoorn Crime Watch se Facebook-blad geplaas. Die kamera is op die stoep van Beans About Coffee gerig.
In die beeldmateriaal kan gesien word hoe mense van die ander kant van die straat begin hardloop. Later kan ’n man in ’n geel hemp op die stoep gesien word waar hy weens sy beserings inmekaarsak.
Harry Coetzee van Blacklist Security sê hy het op die toneel vir omstanders gevra of hulle weet wat gebeur het, maar dat niemand wou praat nie. (Deur Stefan Skapie Goosen)