INWONERS van die Wes-Kaap het teen druktyd van Die Hoorn gister nog asem opgehou oor moontlike strenger inperkingsregulasies wat dalk op pad is.
Dit volg nadat pres Cyril Ramaphosa gisteroggend met die presidensiële ko-ördineringsraad en later met die kabinet vergader het oor die toename in Covid-19-gevalle in die Oos- en Wes-Kaap en moontlike strenger maatreëls.
Die verwagting gistermiddag was dat Ramaphosa moontlik reeds gister met Suid-Afrikaners sou praat.
Gerugte het gister sterk geloop dat die aandklokreël moontlik weer ingestel sal word vanaf 22:00 saans, drankverkope net van Maandae tot Donderdae sal plaasvind en die grootte van byeenkomste sou verklein.
Daar was egter hoop dat provinsiale grense nie gesluit sal word nie.
Intussen het die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, aangedui dat hy vandag (Donderdag 3 Desember) sal aandui hoe die provinsie beoog om die Covid-19-pandemie oor die feesgety te hanteer.
Volgens Winde is die Wes-Kaapse regering sterk gekant teen die hernude instelling van ’n inperking omdat dit verwoestend sal wees vir die ekonomie in die provinsie.
“Die beste en vinnigste manier om die virus te beveg is deur individue, besighede en die burgerlike samelewing wat hul rol speel deur hul gedrag te verander.
“Ons moet toesien dat elke persoon ’n masker dra. Ons moet skares en nie-noodsaaklike byeenkomste vermy. En ons moet verseker dat ons nie nou kontak met ander het nie.
“As ons hierdie protokolle volg, kan ons ’n groot duik in hierdie nuwe vlaag infeksies maak.
“Dit behoort nou elke inwoner se prioriteit te wees.
Luidens ’n persverklaring van die Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, Anton Bredell, sal verskeie optredes in die provinsie volg om seker te maak regulasies word gehoorsaam. Dit sluit padblokkades en besoeke aan hoërisiko-gebiede in.
Tweede vlaag neem toe in Tuinroete en in die Groter Oudtshoorn
Die Hoorn het die week by verskeie betroubare bronne uit mediese geledere verneem dat daar tans ’n merkbare toename is in Covid-19-gevalle in die Groter Oudtshoorn.
Dit wil ook voorkom of die huidige tweede Covid-19-vlaag erger is as die eerste met baie mense wat glo tans gediagnoseer en in hospitale opgeneem word.
So tree munisipaliteite tans op
Die George Munisipaliteit het intussen alle sportfasiliteite en openbare venues gesluit.
Die Kannaland Munisipaliteit het ook alle munisipale fasiliteite gesluit.
Op Oudtshoorn is verskeie geleenthede reeds die afgelope ruk afgestel of gesluit. Die onlangse netwerkaand van die Oudtshoorn Besigheidskamer en ’n munisipale raadsvergadering wat Maandag sou plaasvind, tel daaronder.
Volgens die speaker van die Groter Oudtshoorn-raad, Julia le Roux-Krowitz is die raadsvergadering uitgestel as gevolg van die toename in Covid-19-gevalle in die streek maar ook as gevolg van infeksies onder amptenare.
“ ’n Aantal amptenare het die afgelope week positief getoets vir Covid-19, wat gelei het tot die sluiting van munisipale kantore. Ons wil hierdie tweede golf nie ligtelik opneem nie en wil eerder aan die veilige kant wees, ” sê Le Roux-Krowitz.
“Die veiligheid van raadslede, amptenare en elke burger van die Groter Oudtshoorn is nou van die uiterste belang.
“Ons is ook diep bekommerd oor die tempo van die nuwe infeksies in die Groter Oudtshoorn.”
Almal hou asem op oor nuwe Covid-19-regulasies
