7-jarige sterf na motor hom tref

Jeandré Kammies

DIE 26-jarige bestuurder van die voertuig wat die sewejarige Jeandré Kammies van Bridgton Dinsdagoggend getref het, moes die toneel verlaat omdat hy deur ’n skare mense gekonfronteer is.

So sê kapt Malcolm Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie. Jeandré het op die toneel in Dassieweg gesterf as gevolg van inwendige bese-rings wat hy tydens die ongeluk opgedoen het.

Volgens Pojie het die Oudtshoorn Polisie ’n saak van strafbare manslag geopen nadat die bestuurder van die Renault – wat by die voorval betrokke was – self die voorval by ’n polisiekantoor aangemeld het.

“Inligting tot ons beskikking wys dat die be­stuurder omstreeks 07:00 op pad was na ’n plaaslike skool om kinders van ’n vriend af te laai. Die jong seun (Jeandré) het na bewering Das­sieweg oorgesteek, en is deur die kar getref.”

Pojie sê die bestuurder het na bewering wel stilgehou om die omvang van die ongeluk vas te stel, maar is deur ’n groep mense wat op die ongeluks-toneel vergader het, gekonfronteer. Hy het toe reg­uit na ’n polisiekantoor gery om die ongeluk aan te meld.

Volgens Pojie is niemand nog in hegtenis geneem nie, en sal die dossier na die senior staatsaanklaer gestuur word sodra die ondersoek voltooi is.
“ ’n Besluit oor vervolging sal dan geneem word.” (Deur Stefan Skapie Goosen)