“As jy wil skryf – of dit nou poësie, stories of romans is – moet jy léés…”
Dit is een van die kernboodskappe wat die ses aspirantskrywers en -digters, wat onlangs ’n heerlik-informele skryfsessie saam met die bekende digter en skrywer, Hannes Visser, bygewoon het, met hulle kon huis toe neem om aan te herkou.
Vir ’n meer diverse groep kon Hannes nie gevra het nie; van ’n skolier tot 3 afgetredenes (waarvan een ’n dosent en nog een ’n onderwyser was), ’n oud-kopieskrywer en ’n kinderboekskrywer wat van meet af aan ’n resep was vir ongebreidelde kreatiwiteit.
By O’Flinns, wat binnekort ’n nuwe gedaante gaan kry wanneer ’n besigheid sy deure daar gaan oopmaak, by die Le Roux Dorpshuis kon die deelnemers asemskep en asemhaal.
Daar is gepraat oor waar gedigte vandaan kom, hoe gedigte lyk, hoe dit met mense praat en waarom dit nie net vir ʼn eksklusiewe groepie mense bedoel is nie. Gedigte is letterlik deel van ons almal se lewens en stories.
’n Interessante praktiese sessie het onverwags ’n nuwe perspektief gegee op ’n 30-jaar-oue skildery toe die jong Gen-Z skolier ’n vars interpretasie daarvan met die ouer garde deel. Inderdaad ’n helder oomblik vir almal!
Praktiese sessies het die skryf van gedagtes en kort stories ingesluit, wat gereduseer moes word tot ’n essensie van vier sinne.
Dit was wonderlik om te sien hoe elkeen dit reggekry het en hoe bevrydend dit die deelnemers laat voel het – en hoe hulle mekaar se pogings kon waardeer!
Benewens die voorlees van ’n paar gedigte en gesprekke rondom waarom juis dáárdie gedigte gekies is, kon elkeen ook ’n bydrae lewer oor persoonlike persepsies en hoe dit inspeel op enige skryfwerk.
Hou hierdie spasie dop… daar gaan vir seker ’n publikasie of twee gebore word uit hierdie kreatiewe groepie. (SUSAN BOTHA)
Poësiedag slyp talent van aspirantskrywers
Die kursusgangers tydens ’n praktiese oefening.