Klag van strafbare manslag weer op klagstaat teen Meyer

Die uitgebrande Golf van JP Sauls wat oorlede is kort nadat hy uit die brandende voertuig gehaal is. Foto: Hannes Visser

Die regsverteenwoordiger van Samantha Meyer (40) het Maandag in die hof gesê die besluit van die staat om die klag van strafbare manslag terug te plaas op die klagstaat in die saak teen Meyer, sonder om enige redes te verskaf, is irrasioneel en wettiglik baie onregverdig.

Bulelani Bans het die hof versoek om te hou by die beslissing van 10 Junie 2025 toe besluit is om die klag van strafbare manslag van die klagstaat van sy kliënt te verwyder.

Dié stap op 10 Junie het reaksies van ongeloof en skok onder die gemeenskap tot gevolg gehad en die media het navrae aan die openbare vervolger gestuur om redes vir die verwydering te gee.

Meyer was die bestuurder van ’n Audi A4 wat op 8 November 2024 in ’n botsing was met ʼn Volkswagen Golf van ʼn jong onderwyser van Dysselsdorp, JP “Pokkels” Sauls (24), pa van ʼn vyfjarige kleuter, wat op die toneel aan sy beserings beswyk het.

Meyer staan tereg op klagtes van strafbare manslag, bestuur onder die invloed van alkohol asook roekelose en/of nalatige bestuur. Die klagte van strafbare manslag is op 10 Junie 2025 deur die staat teruggetrek maar later weer op die klagstaat teruggeplaas.

Volgens Bans het hy op 20 Junie 2025 ’n skrywe aan die senior staatsaanklaer gerig waarin hy die redes vir die terugplasing van die klagte gevra het, nadat hy op 19 Junie ’n e-pos van die staat ontvang het waarin hy hieroor ingelig is.

Hy het egter nie erkenning van ontvangs van sy skrywe van die senior streekhofaanklaer ontvang nie.
Landdros Zuastrid Deyce het dit Maandag aan Bans gestel dat sy self verras was oor die ommekeer, maar sy nie by magte is om die saak van die hofrol te verwyder sonder die toestemming van die senior streekhofaanklaer nie.

Sy het die saak vir verhoor tot 13 Augustus in streekhof 2 uitgestel. Meyer is op waarskuwing. (GARNETT WICOMB)