Gemeenskap spring in om hulle omgewing skoon te kry

Inwoners van Donkerhoek by Leon Campher (derde van links), Hazel Jonker, Johan Allers en Morné Jonker tydens die afsluitingsfunksie. Foto onder: Skoliere en inwoners by ’n gedeelte van die honderde sakke met rommel wat oor ’n tydperk van twee weke gevul is.

Een van die grootste opruimingsprojekte wat nog deur die gemeenskap aangepak is, het twee weke lank in Dysselsdorp geduur. Leerders van die vier skole het ingespring om die skoolterreine en areas om die skole skoon te maak terwyl inwoners van Donkerhoek, die informele nedersetting op die Kammanassiepad, ’n strook van 4 km skoongemaak het.

Morné Jonker van die Jonker-groep en die raadslid en gemeenskapsleier, Leon Campher, wat in Dysselsdorp woon, het die projek van stapel gestuur. Volgens Jonker het hy en Campher gesels oor die rommel wat in die dorp en veral op die pad tussen Dysselsdorp en die stortingsterrein lê.

“Leon is ’n voorvatter en is baie nou betrokke in die gemeenskap. Ek het vir hom gesê ek is bereid om betrokke te raak en befondsing te kry as hy die gemeenskap betrokke kan kry. Hy het verskeie praatjies by die skole en in die gemeenskap gehou en die hele projek bestuur. Die uiteinde was dat daar binne twee weke honderde swartsakke met rommel gevul is.”

Die pad tussen Dysselsdorp en die Kammanassiedam loop by Dyssesldorp se stortingsterrein verby en weerskante van die pad was vir bykans 4 km met rommel besaai. Donkerhoek se mense het ingespring en ’n strook van ongeveer 200 m weerskante van die pad oor die afstand van 4 km skoongemaak.

Met die voltooiing van die projek het Morné, sy ma Hazel Jonker en Leon Campher verlede Vrydag die mense wat betrokke was by die opruimingsprojek tydens ’n afsluitingsfunksie by Donkerhoek bedank.

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester, Johan Allers, was ook teenwoordig. Hy het gesê projekte soos daardie is net suksesvol as die gemeenskap self betrokke raak. “Kyk maar na die skoonmaak van die Grobbelaarsrivier. Dit was nie net die munisipaliteit nie, dit was inwoners wat ook ingespring het om die dorp beter te maak.”

Volgens Jonker was hierdie projek die eerste van nog wat gaan volg. Hy het dit bestempel as ʼn nuwe era van samewerking op Dysselsdorp met streng bestuur van vullis en maandelikse opruiming.

“Ons oogmerk is om die hele Dysselsdorp skoon te kry en hierdie is die bewys dat ʼn gemeenskap ’n groot verskil kan maak,” het hy gesê.

Hy het op ’n Facebook-plasing gesê: “Welgedaan Mnr Leon Campher en al die pragtige Dysselsdorp mense wie vir twee weke die 4 skoolgronde asook die Donkerhoek woonbuurt, en velde mooi skoongemaak het. Hierdie gemeenskap praat en kla nie, hulle DOEN, hulle WERK.” (HANNES VISSER)