Nuwe pyplyn in Parkweg byna voltooi

Die laaste gedeelte van die pyplyn in Parkweg by die aansluiting van Kerkstraat. Foto: Hannes Visser

Die waterpyplyn wat die afgelope aantal maande in Parkweg gelê word, behoort teen volgende week heeltemal voltooi te wees en dan kan herstelwerk aan die padoppervlak begin.

Volgens Chris Swart, senior bestuurder van water en riolering by die Oudtshoorn-munisipaliteit beloop die koste van die pyp wat oor 1,9 km strek, ongeveer R3 miljoen.

Die nuwe pyplyn vervang verouderde asbes-pype wat dekades gelede in die dorp gelê is. Daar word gereeld berig oor verouderde pype wat bars en skade aan strate aanrig.

Volgens Swart is die koste om al die bestaande asbespype wat ongeveer 200 km beslaan, meer as R400 miljoen en die munisipaliteit kan met sy beskikbare fondse slegs sowat 2 tot 3 km se pype per jaar vervang.

Daar is vanjaar ook ongeveer 4,5 km se pype in Bongolethu vervang wat befonds word deur die regering se MIG-fondse (Municipal Infrastructure Grant). Die groot nadeel van die verouderde pype is die groot skade wat aan padoppervlaktes aangerig word.

Daar is tans bykans 400 plekke waar pype gebars het en waar strate herstel moet word. Die voorkoms van pype wat bars is ongelukkig baie hoër as die tempo waarteen herstelwerk aan straatoppervlaktes gedoen kan word.

Ten spyte van die reuse-uitdaging en beperkte fondse, sê Swart dat elke gedeelte van ’n pyplyn wat vervang word ’n tree vooruit is. Hulle konsentreer tans op die vervanging van pype in strate waar beplan word om die padoppervlaktes te herseël.

Vir die huidige boekjaar 2025/2026 is weer ongeveer R3,5 miljoen vir pype begroot en die beplanning is om die oorblywende 400 m pyp tot by Vootrekkerweg te vervang en dan ongeveer 2 km van Jan van Riebeeckweg vanaf Rademeyerstraat te doen.

Volgens Swart word daar beplan om teen die einde van Julie met die teerwerk in Parkweg vanaf Van der Rietstraat tot by die hospitaal te begin indien die pyplyn heeltemal voltooi en opgevul is.

Waar die vorige pyplyn onder die middel van die pad gelê was, is die nuwe een aan die kant van die pad gelê om toekomstige skade te voorkom. (HANNES VISSER)