Boek oor valskermsoldate volgende week landswyd bekendgestel

Die voorblad van Valskermbataljon-verhale wat deur Mike Bolhuis saamgestel is.

Die bekende privaatspeurder, Mike Bolhuis en twee ander oud-valskermsoldate, Lieb Liebenberg en Dirk van der Wall, se projek om valskermsoldate die geleentheid te gee om hulle eie stories te vertel is na drie jaar ’n werklikheid. Die boek, Valskermbataljon-verhale verskyn volgende week landwyd.

Die eerste bekendstelling vind oor ʼn week by die Vrystaat Kunstefees plaas, waar 1 Valskerm- bataljon geleë is.

Die boek word deur Naledi uigegee en ’n skrywer van Oudtshoorn was die afgelope twee maande intensief betrokke by die publikasieproses van die boek.

Skrywer, digter en redakteur van Die Hoorn, Hannes Visser, is in April deur Naledi genader om die manuskrip van bykans 105 000 woorde onder hande te neem, verhale te keur en tot ongeveer 70 000 woorde te redigeer. Hy het ook uit meer as 100 foto’s ongeveer 60 gekies wat die teks toelig.

Visser was deel van ’n span wat ’n proefleser en taalversorger, uitleg- en ontwerpkunstenaars, Bolhuis en sy span sowel as die uitgewer ingesluit het.

Met die afhandeling van die proses het hy gesê dat die stories, wat so getrou as moontlik aan die oorspronklike vertellers se skryfwyse in die boek opgeneem is, hom deur ander oë laat kyk na die rol wat valskermsoldate in die grensoorlog gespeel het.

Naledi se rol as uitgewer van die boek het ook vir die eienaar, Johan Coetzee, ’n spesiale betekenis aangesien hy self ook tydens die grensoorlog as valskermsoldaat opgelei is.

Valskermbataljon-verhale is van volgende week af in boekwinkels beskikbaar, maar kan ook aanlyn van Naledi bestel word by die volgende skakel https://naledi.co.za/product /valskermbataljon-verhale/ of by tertia@naledi.co.za.