Pleitooreenkoms van Badenhorst Twee aanvaar

Fritz Jacobs en Tammy Weyers in gelukkiger dae. Foto Facebook

Deur Angelique Erasmus
DIE saak teen die twee Oudts­hoorniete wat op 26 September 2018 met ’n Hyundai-bakkie en ’n groot bedrag geld van Badenhorst Slag­­­huis op Oudtshoorn verdwyn het, nader sy einde nadat die staat Maandag die pleitooreenkomste van Fritz Jacobs en Tammy Michelle Weyers aanvaar het.

Die twee is die dag na hul verdwyning op Knysna in hegtenis geneem.

Jacobs was ten tye van die voorval ’n werknemer by Badenhorst Slaghuis.

Die klaer in die saak, Bennie Byleveld, moet egter nog gekonsulteer word oor die pleitooreenkoms, terwyl die hof ook nog wag op korrektiewe verslae en die bevestiging van ’n adres in Vanderbijlpark.

Jacobs en Weyers, wat voorheen in die beskuldigdebank hande vasgehou het, het Maandag ver van mekaar gestaan.

’n Vriend van Jacobs het bevestig dat Jacobs en Weyers nie meer in ’n verhou­ding is nie.
Streeklanddros Retha Pretorius het die saak teen hulle uitgestel tot 20 Maart 2019. Weyers is tans uit op borgtog, maar Jacobs steeds in aanhouding nadat sy aansoek om borgtog in 2018 onsuksesvol was.