Dié groep Oudtshoorniete gaan vir ’n aangrypende produksie by vanjaar se KKNK sorg. Van links is Julia de Beer, Tania Smit, Paul Eilers en Jaco Kriek. Foto: Die Hoorn
’N VOORLESING uit Tania Smit van Oudtshoorn se debuutbundel, Hekelwoorde van my hart, maak vanjaar deel uit van die KKNK!
Die boekvoorlesing in die produksie, Karoolinge gehekel in woord en klank, word gedoen deur die bekende Paul Eilers met musiek wat verskaf word deur Jaco Kriek, plaaslike oogkundige en saksofoonspeler, en Julia de Beer, Tania se talentvolle dogter met die fluweelstem. Julia het verlede jaar aan die Hoërskool Oudtshoorn gematrikuleer en is tans ’n eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit.
Tania se skrywes oor gewone mense se alledaagse emosies het lesers landwyd geraak, met meer as 1500 bundels wat in minder as vier maande verkoop is.
Die produksie word aangebied in die St Jude’s Anglikaanse Kerk, een van Oudtshoorn se oudste klipkerkies met die hoeksteen wat reeds in 1860 gelê is.
Die vertoning vind op Sondag, 24 Maart, om 11:30 en Maandag, 25 Maart, om 20:00 plaas.
Kaartjies kos R110 en is beskikbaar by Computicket.