Deur Garnett Wicomb
DIE voormalige munisipale bestuurder van Oudtshoorn, Martin Noël Pietersen, het verlede week by die Oudtshoorn Korrektiewe Dienste aangemeld om sy vonnis van twee jaar uit te dien.
So sê die hoof van die gevangenis, Phillip Busch.
Pietersen se vonnis van vyf jaar wat hom in 2017 in die Oudtshoorn Streekhof opgelê is, is verlede maand deur die Kaapse Hooggeregshof tot twee jaar verminder, waarna hy aangedui het dat hy ook daarteen wil appelleer.
Die hooggeregshof het op 7 Februarie die skuldigbevinding op drie van vyf klagtes ter syde gestel en die twee orige klagtes oor die wettigheid en dringendheid van ’n kontrak saamgeneem vir die nuwe vonnis.
Pietersen het daarna steeds volgehou dat hy geen geld van die Oudtshoorn Munisipaliteit in sy sak gesteek, gesteel of bedrog gepleeg het nie en ook nie die munisipaliteit se geld verkwis het nie.
“Dit is waarom en op drie klagtes vrygespreek is,” het hy ná die beslissing van die Hooggeregshof gesê.
Volgens Pietersen sal sy stryd om geregtigheid voortduur.