’n Kind snuif oop en bloot aan die inhoud van sy bottel op ’n sypaadjie in Oudtshoorn.
Foto’s: Angelique Erasmus

Francois Tiemie (middel) en Raymie Alberts (regs), twee Oudtshoorniete wat besluit het om die straatkindprobleem op die dorp aan te pak deur petisielyste by verskeie plekke op die dorp te plaas, het Dinsdag aan Skillie Pretorius (links) van Spar so ’n lys oorhandig.
Deur Angelique Erasmus
OUDTSHOORNIETE het die afgelope twee weke sosiale media aan die brand oor straatkinders wat deesdae met wapens soos messe en byle op straat loop en hul gedrag wat toenemend aggressief raak.
Verskeie inwoners vertel dat die straatkinders hul uitlag en vertel dat die polisie niks aan hulle mag doen nie.
Dit het twee inwoners, Francois Tiemie en Raymie Alberts, gedryf om petisielyste by ’n aantal besighede op die dorp te plaas sodat inwoners met hul handtekeninge hul protes oor die straatkindsituasie kan toon. Petisielyste kan onderteken word by Oudtshoorn Spar, Truworths, Rage, PEP Home en Rou Karoo.
Hulle beoog om die lyste aan die burgemeester van Oudtshoorn, Colan Sylvester, te oorhandig.
“Genoeg is genoeg, dit tyd is dat die inwoners hul dorp terugeis,” sê Alberts.
Onder die klagtes oor die gedrag van straatkinders op Oudtshoorn tel die volgende:
• Bottels vol gom en petrol word openlik in die openbaar gesnuif.
• Die kinders dra wapens soos messe, byle en bakstene by hulle. Motors word beskadig, besighede se vensters uitgegooi en hul werknemers deur kinders gedreig en selfs met messe aangeval.
• Kru taal is aan die orde van die dag
• Besighede in veral Hoogstraat loop deur onder klippe, diefstal en deesdae ook honde wat deur die kinders gebruik word om werknemers te verwilder sodat hulle kans kan kry om te steel.
• Kinders ontlas op sypaadjies en teen winkelmure met winkeleienaars wat dit moet skoonmaak.
Volgens Elsie Beling, eienaar van Klein Begin-roosterkoekstalletjie, is daar sowat drie groepe kinders wat in “bendes” opereer. Die groepe bestaan uit sowat agt tot 12 kinders van verskeie ouderdomme. Ouer kinders is meer die “leiers” wat die kleiner kinders voorsê en aanrand of hul kos afneem as hulle nie opdragte uitvoer nie. Verskeie ander eienaars en werknemers by besighede op die dorp stem saam met Beling.
Die Hoorn het die volgende terugvoer van rolspelers bekom:
• Sers Gretchen Michaels, woordvoerder van die Oudtshoorn Polisie, sê die polisie volg die voorgeskrewe prosedure en neem kinders na die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling of huis toe, maar dat hulle net weer terugkeer dorp toe.
• Ntobeko Mangqwengqwe, woordvoerder van die Oudtshoorn Munisipaliteit, sê dit is ’n ernstige en komplekse situasie en kan nie net deur die munisipale wetstoepassers alleen hanteer word nie.
“Mense moet besef dat kinders tussen 10 en 18 jaar sedert 1 April 2010 ingevolge die Wet op
Kindergeregtigheid (Child Justice Act), hanteer moet word. Kinders wat in hegtenis geneem word, mag nie soos volwassenes hanteer word nie.”
Die kinders het sekere regte ingevolge die wet soos dat hul ouers of voogde deur die polisie in kennis gestel moet word wanneer hulle in hegtenis geneem word; die reg tot assesering deur ’n maatskaplike werker; kinders 14 jaar en jonger mag nie in ’n tronk aangehou word nie; en ouer kinders mag slegs in uiterste gevalle aangehou word.
“Dit is ’n sosio-ekonomiese probleem en alle rolspelers wat ’n verskil kan maak moet hande vat en saamwerk. Die oorsaak moet ook aangespreek word,” het Mangqwengqwe gesê.
• Esther Lewis, hoof van kommunikasie vir die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling in die Wes-Kaap, sê die polisie moet gekontak word indien kinders by misdaad betrokke is of wapens het. Die polisie moet dan die departement kontak wat ’n maatskaplike werker sal stuur om die kind en sy/haar omstandighede te asseseer en te bepaal of die kind krimineel vervolg moet word of met die hulp van “programme” kriminele en probleemgedrag kan afleer. Sy sê die departement het verskeie projekte waarmee kinders gehelp kan word asook plekke van veiligheid soos Huis Triomf. Volgens Lewis word baie gevalle in die streek suksesvol aangespreek. Sy het die publiek genooi om Ronel Olivier (tel 044 203 5905) te kontak oor probleme met straatkinders.
• Eunice Strydom, streekbestuurder van die ACVV Klein Karoo, stem saam dat die polisie gekontak moet word as kinders probleme op straat gee of met bottels vol gom of petrol loop.
“Die Kinderwet vereis dat kinders beskerm moet word. Dit beteken dat ’n maatskaplike werker ’n veiligheidsassesering moet doen en ’n veiligheidsplan in samewerking met die kind en ouers moet opstel.
Die plan word na drie maande hersien om te bepaal of dit suksesvol was en of verdere stappe geneem moet word. Hierdie proses word in regulasies 35 tot 37 van die Kinderwet voorgeskryf.”
• Nicolette van der Walt, nasionale bestuurder van Kinderbeskerming vir die ACVV sê kinders op straat is ’n wêreldwye fenomeen wat moeilik aangespreek word vanweë armoede en ’n kultuur van misdaad, of gebrekkige ouerskap.
“Dit is nie net ’n welsynsprobleem nie, maar moet kollektief deur die gemeenskap aangespreek word, byvoorbeeld deur mense bewus te maak om nie geld of kos aan hierdie kinders te gee nie.”