Links:Jason “Jaffie” Jafta. Foto: Angelique Erasmus
Deur Angelique Erasmus
VIR 37 jaar het sy helende hande ander versorg en gesond gemaak.
Jason “Jaffie” Jafta, soos hy alombekend is, tree egter vandag, Donderdag, af as senior verpleegassistent by die Oudtshoorn Hospitaal.
Dié merkwaardige man het in 1979 by die Oudtshoorn Hospitaal begin werk as skoonmaker. Hy het in ’n stadium vir twee jaar diensplig by die weermag gaan doen het en daarna weer by die hospitaal aangesluit, dié keer as verpleegassistent.
“Ek wou eintlik studeer om ’n dokter te word, maar weens omstandigehede was dit nie vir my moontlik nie,” sê Jafta.
Jafta is bekend as iemand met baie passie vir sy werk en ’n sagte plek vir mense met verlore ledemate en wonde wat nie genees nie.
Hy word inderdaad deur sy pasiënte as ’n “aardsengel met helende hande” beskryf.
“Ek behandel graag wonde, en konsentreer daar-op om te probeer om tot die beste van my vermoë, te voorkom dat aangetaste ledemate afgesit word.
Jafta sê die Oudtshoorn Hospitaal bied op verskillende dae verskillende soort klinieke en sorg aan, en daarom kom hy nie net met mense in kontak wat wondversorging benodig nie, maar ook byvoorbeeld swanger moeders, pediatriese gevalle en okulêre versorging.
Hy vertel hy het self die kliniek vir wondversorging op Vrydae begin en is ongelooflik trots daarop.
“Ek het soveel persone gesien met oop wonde, veral wanneer ledemate afgesit is, en hoe hulle sukkel om die wond genees te kry. Dit het my werklik geroer in my hart en ek wou graag ’n verskil maak om dié mense se pyn te verlig,” sê hy trots.
Vir ontspanning na ’n harde dag se werk, drink dié oupa van drie graag ’n heerlike koppie tee, trek sy drafskoene aan en gaan hardloop dan ’n ent.
Die “ent” is natuurlik niks minder as agt kilometer nie!
Jafta het pas die Kango Marathon oor 42,2 km in 03:36 uur voltooi, en vertel hy oefen reeds vir die Comrades-wedloop later vanjaar.
Hy gaan vanjaar aan sy 28ste Comrades deelneem.
“Ek wil nou kwaliteit tyd saam met my vrou, twee kinders en drie kleinkinders deurbring, maar ek is steeds hartseer om weg te gaan, en gaan al my kollegas en die dokters mis.
“Ek wil graag vir my vrou baie dankie sê vir al die jare se ondersteuning. Sy is voorwaar ’n regte staatmaker,” sê hy.
Jafta beoog om nou ná sy aftrede ’n drafgroep te begin, waarby persone van alle ouderdomme wat graag wil fiks bly of gewig wil verloor, kan inskakel.
Hy sê sportmanne en selfs mammas met kinders is ook welkom om daarby aan te sluit en te kom saamoefen.
Belangstellendes kan Jafta kontak op 076 278 1161.