Perdehoewe dreun by uithourit

Alle foto’s met vergunning van Johanette Photography. Besoek gerus haar facebookblad vir meer foto’s van die naweek en die prag perde.

Op 12 en 13 April het 95 perde en hul ruiters met hul families en ondersteuningspanne op Oudtshoorn toegesak om deel te neem aan die 26ste Perde-uithourit hier.

Vanjaar was dit egter ekstra spesiaal, omdat die Outeniqua Uithouritklub ’n Internasionale FEI (Federation for Equistrian Sport) rit tesame met hul gewone rit aangebied het.

Die rit het ’n groot borgskap bekom vanaf H.H. Sheikha Shamma bint Hamdan bin Rashid Al Maktoum vanaf Dubai. Sy besit die Al Wefa stalle en is ’n groot perdesport entoesias. Sy neem gereeld deel aan verskeie ander perde dissiplines, en raap gereeld pryse op vir haar kundige perdry-vermoë.

Daarom is vanjaar se rit die Al Wefa Stable FEI Uithourit gedoop. Daar was selfs ’n ruiter al die pad van Dubai af, Ahmad Fareed Hussain Aldarwish, onder die deelnemers. Aldarwish het Saterdag sy 100 km FEI * suksesvol voltooi.

Vanjaar se FEI afstande wat hier aangebied is, was 100 km op Vrydag wat ’n 1* FEI afstand is. Saterdag is die 100 km 1* FEI afstand weer aangebied tesame met ’n 2** 120 km afstand. Ruiters en perde moet eers die 100 km suksesvol aflê, voor hul ’n 2- en selfs 3-ster 160 km-afstand kan aandurf.

Daar was ook 40 km, 80 km en 120 km Erasa (Endurance Ride Association of South Africa) afstande oor die twee dae.

Ruiters het by die Kansa Krale sowat 10 km buite Oudtshoorn weggespring, wat onlangs pragtig opgegradeer is. Dit was ook die basis waarheen elke perd na elke been teruggekeer het en versorg is voor hul aan die veeartse aangebied word om te bepaal of hul die volgende been van die rit mag aandurf.

Met die 100 mm reën wat by die Kansa Krale die week voor die rit geval het, moes daar inderhaas ’n nuwe baan uitgesit word, omdat die veld te nat was en dit te gevaarlik vir die ruiters en perde sou wees om daar te ry. Ruiters moes noodgedwonge dieselfde 20 km-been oor en oor ry tot hul onderskeie afstande voltooi was.

Slegs 21 perde het nie hul rit suksesvol voltooi nie, wat ’n goeie teken is, al was daar steeds modderige en nat dele op die baan.

Hier volg die wenners van die verskeie afstande:
Vrydag:
100 km FEI 1* – Lara le Roux op Koringkloof Fadjur.
80 km – Karin Janse van Rensburg op haar perd Zwierie.

Saterdag:
120 km – Dominique Kotzenberg op Sicada Zar, sy deel die eerste plek met
120 FEI** – Gillese de Villiers en Leyhla Titanium.
100 km FEI* – Nico-Meyer le Roux op BK Habanero.
80 km – Kristy Masterson op Delmar Bariq.

Elke deelnemer het tydens die prysuitdeling ’n medalje ontvang met die klub se embleem, sowel as heerlike pryse van die verskeie borge wat produkte geskenk het. Daar was ook borge wat kontant geskenk het om die groot onkostes van so rit te help dra. Deelnemers het elkeen ook ’n lekker sakkie vol plaaslike bederfprodukte ontvang tydens registrasie, wat deur plaaslike besighede geborg is.

“Vir elke liewe ruiter wat kom ry het, dankie dat julle gekom het, sonder julle kan ons nie ritte aanbied nie.”

“Aan elke liewe ouer, man, vrou, vriend of vriendin wat die ruiters kom ondersteun en help met hul perde, dankie vir julle harde werk en ondersteuning. ’n Spesiale dank aan elke liewe borg wat ons ruiters bederf met fantastiese pryse wat hul wen.”

“Dis lekker vir ’n ruiter om nie net met ’n sertifikaat weg te stap nie, maar ’n medalje waarmee hy die spesiale ervaring kan onthou, en ’n lekker prys wat hy vir sy perd kan gebruik,” het Henk Basson, voorsitter van die klub gesê.

Hy voeg by dat daar gaan ongelooflik baie werk agter die skerms aan, deur verskeie persone en organisasies soos Jakhals Events en Klein Karoo Event Medics, waarvan mense nie eers bewus is nie, om te verseker dat so ’n rit vlot verloop en ruiters te alle tye veilig kan wees.

Hy sê hulle is ook baie dankbaar vir die Kansa Krale wat ’n wonderlike toegeruste “venue” verskaf, sowel as Manie Potgieter van De Zeekoe wat sy plaas beskikbaar stel sodat ruiters die paaie kan gebruik.

“Dankie ook aan al ons beamptes, veeartse en tyd-houers wat van ver af gekom het, sodat die FEI- en die Erasa-rit moontlik kon wees. Ons sien uit daarna om julle by die volgende rit te sien,” sluit hy af. (Deur Angelique Erasmus)

Saterdag se 120 km FEI ** deelnemers het hul rit suksesvol voltooi.

Basson saam met al Saterdag se 100 km FEI* deelnemers wat hul rit suksesvol voltooi het.

Nico-Meyer le Roux, by Henk Basson (voorsitter). Le Roux het Saterdag die 100 km FEI* gewen met sy perd BK Habanero. Sy perd het ook die beste gekondisioneer prys gewen.

Van die naweek se beamptes en veeartste, sommige het van so ver soos Botswana en Namibia gekom om die rit moontlik te maak.

Lizèl de Waal, Lizelette le Roux en Leah Muller durf die 80 km afstand aan. Al drie ruiters is van Oudtshoorn.

Le Roux en Habanero draf vir die veeartse.

Ronell Crafford en Julia de Kock se perde sweef oor die pad.

Ruby Kruger en haar staatmaker perd Om-Sura Zappa in aksie.

Joseph Rapulana en Perdeberg Hi-Obsession tydens een van die 80 km bene.

Soms is dit nodig om eerder langs jou perd te stap as die pad te modderig of klipperig word. Ruiters sal verskeie kere die pad te voet aandurf om hul perde te beskerm soos Sean Szeiman hierbo maak.

Die band tussen ruiter en perd.

Geborgde pryse.