Pastoor se saak vir uitspraak uitgestel

DIE saak teen die pastoor van Oudts­hoorn wat tereg staan op 37 klagtes van ’n seksuele aard is Dinsdag na die slotargumente van die staat en die verdediging vir uitspraak tot Aprilmaand uitgestel.

Die 60-jarige Stephanus Olivier staan tereg op drie klagtes van verkragting, vier van seksuele aanranding en 30 van die besit van kinderpornografie, en pleit onskuldig op al die klagtes.

Die beweerde voorvalle het glo in 2003 plaasgevind toe die twee klaers in die saak onderskeidelik 13 en 14 jaar oud was.

Olivier is in 2018 in hegtenis geneem en borgtog van R10 000 is aan hom toegestaan.

Die staatsaanklaer, adv Michelle Weyers, het die hof versoek om Olivier op al die klagtes skuldig te bevind, terwyl sy regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, van mening was dat die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie, en hy op vryspraak geregtig is.

Streeklanddros Daniel Boks het die saak Dinsdag vir uitspraak tot 5 April uitgestel en Olivier se borgtog tot dan verleng. (Deur Garnett Wicomb)