Troebel water nie gevaarlik vir inwoners se gesondheid nie

Chris Swart. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE troebelheid van Oudtshoorn se drinkwater die afgelope tyd is nie gevaarlik vir inwoners se gesondheid nie en nie ’n rede tot kommer nie, sê Chris Swart, senior bestuurder: teg­nie­se dienste by die Oudtshoorn Munisipaliteit.

Inwoners van Oudtshoorn was die laaste tyd toenemend bekommerd oor die troebelheid van die dorp se drink­water. En ondanks ’n vroeëre verkla­ring van die munisipaliteit dat die troe­bel water veroorsaak word deur reënwater wat afloop in die Raubenheimerdam – die dorp se waterbron – en deur pype in die waternetwerk wat bars en herstel moet word, is daar steeds vrae.

Swart het tydens ’n onderhoud met Die Hoorn verduidelik dat die kleur, of troebelheid, van Oudtshoorn se drinkwater beslis steeds die gevolg is van die swaar reën in November en Desember verlede jaar. Dit het ver­oorsaak dat modderige water in die dam ingevloei het. “Die troebelheid het net langer as wat ons verwag het geneem om op te klaar. Mens moet ook in gedagte hou dat Oudtshoorn nie ’n watersuiweringsaanleg het nie. Al sou dit lekker wees om so ’n aanleg te hê, is die chlo­rineringsproses wat ons gebruik onder normale omstandighede meer as voldoende om bakterieë tot ’n minimum te hou. Ons toets ook gereeld die water by die dam, chlorineringsaanleg en reservoirs om te verseker dat alles veilig en binne standaard is,” sê Swart.

Hy sê so ’n suiweringsaanleg sal die kleur uit die water neem. Nou be­hou die water egter die oorspronklike kleur soos dit uit die dam kom.

Wanneer meer organiese materiaal in die dam invloei, soos byvoorbeeld na swaar reën, maak dit egter wel die chlorineringsproses moeiliker, omdat die materiaal rondom bakterieë gaan sit, en die chloor minder effektief is. In daardie geval, sê Swart, word meer chloorgas by die ontsmettings­proses gebruik, en dit is ook waarom die munisipaliteit tans inwoners aanmoedig om die water voor gebruik te kook. “Maar ek moet klem daarop lê dat die kleur van die water opsigself geensins beteken dat die water onveilig is nie.”

Swart verduidelik dat die huidige proses wat met Oudtshoorn se water gevolg word al sedert die dam se bou in die 1970s in gebruik is. “As gevolg van die besondere hoë kwaliteit van die rou water is dit die meeste van die tyd aanvaarbaar. Na hoë-intensiteit-reënval ver­troebel die water egter soms en kan dit ’n paar weke ervaar word. Die enigste manier om troebelheid uit die water te verwyder is deur filtrasie.”

Volgens Swart is die bou van ’n watersuiweringsaanleg reeds ver­skeie kere deur die munisipaliteit ondersoek en sal dit sowat R100 mil­joen kos. “Dié opsie word tans weer ondersoek asook maniere van befond­sing.” Swart sê egter die troebelheid het reeds sterk afgeneem en behoort binne weke na normaal terug te keer. (Deur Stefan Skapie Goosen)