‘Ons wil kan spog met ons dorp’

Die span van Helping Hands Community Project Oudtshoorn Donderdag (17 Februarie) besig om die Oudtshoorn Begraafplaas langs die De Rust-pad skoon te maak. Foto: Stefan Skapie Goosen

DIE goeie “skoonmaak-en-kyk-self-na-jou-dorp-gogga” het inwoners van Oudts­hoorn behoorlik gebyt! Verlede Donder­dag (17 Februarie) het Helping Hands Community Project Oudtshoorn (HHCPO) as deel van ’n 100 dae-veldtog ingespring om ’n verskil te maak by die Oudtshoorn Begraafplaas langs die De Rust-pad.

Volgens Emile Cupido, projekbestuurder van HHCPO, wil hulle ’n verskil maak in die omgewing én ook in mense se lewens. Hulle wil nie net die begraafplaas – waaroor inwoners al jare lank kla weens die gebrek aan veiligheid en instandhouding daar – skoonmaak om die voorkoms daarvan te verbeter nie, maar doen dit ook ter wille van die gemoedere en veiligheid van inwoners wie se ge­liefdes daar begrawe is en wat die grafte besoek.

Hul huidige projek sal oor meer as drie maande strek met meer as tien gemeenskapslede wat daagliks bossies uitskoffel, rommel optel en die begraafplaas skoonmaak. “Ons is ’n gemeenskapsorganisasie wat die gemeenskap wil dien. Ons wil verseker dat ons dorp weer ’n mooi dorp word sodat ons dan met die skoonheid en netheid daarvan kan spog,” sê Cupido.

Terwyl hulle skoonmaak, sê Cupido, sal hulle ook ’n oog hou oor besoekers aan die grafte se veiligheid.

“Baie mense wat hul geliefdes se grafte wil kom besoek en dalk wil skoonmaak, voel nie veilig binne die begraafplaas nie. Daarom het ons die inisiatief geneem om ook hieraan aandag te gee.”

Cupido sê die HHCPO se spanlede wil ook toesien dat nog grafte nie gevandaliseer word nie.

Buiten die oorspronklike 100-dae plan, word beoog dat spanlede na die skoonmaakveldtog daagliks die begraafplaas sal beman.

Volgens Cupido wil HHCPO ook dien as werkskeppingsinisiatief, maar daarvoor het hulle die hele Oudtshoorn se betrokkenheid nodig. “As daar dalk mense is wat enige werk beskikbaar het, hetsy los werkies of permanent, kan hulle ons kontak, en moontlik sal van ons spanlede daardie werk kan doen.”

HHCPO is volgens Cupido ’n gemeenskapsorganisasie wat die nood raakgesien het om spesifiek oorgroeide en vuil dele van die dorp te takel. Hul skoonmaak­veldtog het in Neppon begin, en na ’n versoek van die gemeenskap na die parkie in Scheepersstraat geskuif.

HHCPO beoog om ook begraafplase elders in Oudtshoorn te takel.

Die organisasie, wat tans wag vir re- gi­strasie as nie-winsgewende organisasie, is volgens Cupido nie verbonde aan enige politieke party nie, alhoewel hy sê enige party is welkom om hand te kom bysit.

Enigeen kan betrokke raak. Skakel Cupido by 083 464 4350 om uit te vind hoe. (Deur Stefan Skapie Goosen)