Klein Karoo Sakeaflos: Vanjaar weer groot pret vir ieder en elk!

Die sakeaflos is altyd ’n vrolike en prettige byeenkoms waar spanne deelnemers van besighede aan deelneem. Dié foto is by ’n vorige Timbercity Klein Karoo Sakeaflos geneem. Organiseerders sê dat daar vanjaar weer groot pret gaan wees. (Foto: Die Hoorn)

DIE Timbercity Klein Karoo Sakeaflos wat volgende Maandag (28 Februarie) plaasvind, gaan vanjaar weer op die Rec (Oudtshoorn Sportterrein) in Voortrekkerweg plaasvind. En inskrywings is oop vir almal!

Die sakeaflos, wat deur die Klein Karoo Atletiekfonds (KKAF) in samewerking met ’n handvol borge aangebied word, is jaarliks ’n vrolike geleentheid waar almal van Oudtshoorn mekaar beter kan leer ken terwyl almal oefening kry en samesyn kan geniet.

Spanne bestaande uit onder meer besighede se personeel, leerders, die SAPD, die SANW en ander openbare instellings, asook professionele beroepslui.

“Almal wat wil kom deelneem, is welkom om in te skryf. Ons wil graag so veel as moontlik spanne betrokke kry,” sê Dave van der Walt van die KKAF.

Elke deelnemer wat klaar maak, kry ’n medalje terwyl die wenspanne in elke kategorie goue medaljes ontvang.

Daar is vanjaar, soos ouder gewoonte, ’n hardloop- en ’n stap-afdeling.

Spanne wat hardloop, moet uit ses lede bestaan en kan inskryf teen R150 per span, terwyl spanne wat gaan loop uit vier lede moet bestaan, en kan teen R100 per span kan inskryf.

Daar is ook ’n kategorie vir “Fancy Dress” waar pryse uitgedeel word vir die mees oorspronklike kostuums van deelnemers.

Elke been van die aflos verg dat ’n spanlid 2 km moet aflê, met spanlede wat nie jonger as nege jaar oud mag wees nie.

Elke spanlid mag ook net een been van die aflos voltooi.

Mansspanne, vrouespanne en gemengde spanne (drie mans en drie vroue) asook hoërskole-, laerskole- en gestremde spanne kan inskryf.

Inskrywingsvorms kan per e-pos aangevra word by davesusvdw@gmail.com of skakel Van der Walt by 082 773 4901.

Die vorms moet na voltooiing weer aan hom teruggestuur word.