142 liter drank in huis gevind

DIE Oudtshoorn Polisie het die naweek op meer as 142 liter drank beslag gelê in ’n huis in Bridgton, Oudtshoorn waar drank glo onwettig verkoop word.

Volgens kapt Malcolm Pojie, woordvoerder vir die polisie in die Suid-Kaap, het die misdaad­voor­komings­eenheid ’n deursoekingslasbrief bekom en daarna op die huis toege­slaan.

Hulle het die verdagte, ’n middeljarige man, op heterdaad betrap en in hegtenis geneem vir die onwettige handel in drank.

Die meer as 142 liter drank is op die perseel gevind.

Die verdagte is later deur die polisie vrygelaat op ’n waarskuwing om binnekort in die Oudtshoorn Landdroshof te verskyn. (Deur Liesel le Roux)