Oudtshoorn en Kannaland ontvang fondse van provinsie vir skoonmaak en onderhoud

Foto: Die Hoorn argief

DIE Groter Oudtshoorn en Kannaland gaan ook baat by ’n werkskeppingsprojek van die Wes-Kaapse regering vir munisipaliteite. Die R50 miljoen-projek van die Departement Plaaslike Regering gaan vir Expanded Public Works Programme (EPWP)-projekte van munisipaliteite in die provinsie en sal werk aan 95 mense in Oudtshoorn en 81 mense in Kannaland bied.

Oudtshoorn sal R1,1 miljoen ontvang wat geoormerk is vir die uitbreiding van ’n huidige EPWP-projek wat die opruim van onwettige vullisstorting, skoonmaak van watervore, riviere en swembaddens, en die onderhoud van sypaadjies, parke en oop spasies ten doel het.

Oudtshoorniete sal verseker duim vashou dat dié werkers gaan woeker en die Grobbelaarsrivier en dorp se swembaddens daarby sal baat

Kannaland sal R900 000 ontvang vir ’n nuwe EPWP-projek wat op skoonmaak en onderhoud van paaie sal fokus.

Leerder-ondersteuningsdienste in die afdelings menslike hulpbronne en ook finansiële dienste sal ook hierby baat.

Anton Bredell, Wes-Kaapse minister van plaaslike regering, sê die fondse sal entrepreneurskap stimu­leer en vaardighede binne munisipaliteite ontwikkel, terwyl projekte wat die omgewing skoonmaak, indringers uit riviere verwyder en gemik is op gemeenskapsveiligheid dorpe aantrekliker sal maak vir belegging en werkskepping.

Volgens Bredell het al 24 plaaslike munisipaliteite en die Kaapse Metro besigheidsplanne ingedien en sal die fondse begin Maart oorbetaal word.

Die distriksmunisipaliteite in die provinsie sal elk R200 000 ontvang. (Deur Liesel le Roux)