As jy nog wonder of jy padel moet probeer, dan is hierdie jou perfekte kans – en boonop vir ’n baie goeie doel. Oudtshoorn Padel, op die hoek van Kerk- en Buitekantstraat bied op 25 April ’n spesiale fondsinsamelingsgeleentheid aan ten bate van Cat Hotel Oudtshoorn.
Die “Smash for the Cats”-toernooi is meer as net ’n sportgeleentheid – dit is ’n geleentheid vir die gemeenskap om saam te kom, pret te hê en terselfdertyd ’n verskil te maak. Spelers betaal R150 per persoon, waarvan R100 per inskrywing geskenk word. Daar is ook fantastiese pryse op die spel, met die eerste prys geborg deur Highgate Ostrich Show Farm.
Maar dit stop nie daar nie. Deelnemers en toeskouers word ook aangemoedig om skenkings saam te bring – van klere, skoene, kombuisitems, boeke en linne, of selfs katkos en katsand.
Die dag se formaat is eenvoudig en lekker: daar is twee kategorieë. Die dames speel van 08:00 tot 10:00, en gemengde pare vat mekaar aan van 10:30 tot 12:30. Dit beloof om ’n oggend vol aksie, lag en gesonde kompetisie te wees.
En as jy nog nooit padel gespeel het nie? Dan is dit juis hoekom jy moet kom.
Padel het vinnig een van die gewildste sporte in die land geword, en Oudtshoorn is besig om dieselfde pad te stap. Die aantrekkingskrag lê daarin dat dit werklik vir almal is – jonk of oud, fiks of net op soek na iets lekker om te doen. Hier is ouderdom net ’n nommer.
By Oudtshoorn Padel is daar elke dag iets aan die gang. Jy sal altyd ’n wedstryd vind – van vriendskaplike kragmetings tot meer kompeterende spel waar spelers hul vaardighede slyp. Die energie is aansteeklik, en Yolandi van der Westhuizen en haar span is bekend vir hul gasvryheid en entoesiasme.
Maar dalk is die grootste rede hoekom mense terugkom, die sosiale atmosfeer. Dis nie net ’n sport nie – dis ’n ontmoetingsplek, ’n manier om te ontspan en nuwe mense te leer ken.
So hoekom nie hierdie keer sommer twee dinge gelyk doen nie – begin jou padel-reis én maak ’n verskil?
Want een ding is seker, as jy nog nie gepadel het nie, mis jy iets groots!
Hoe om in te skryf: Kontak Oudtshoorn Padel op 083 380 7210 of laai die Playtomic toep af om aanlyn in te skryf. Besoek ook gerus hul Facebookblad of sluit aan by die WhatsApp groep om op oogte te bly van al die opwindend kompetisies. Padels kan ook by Oudtshoorn Padel gehuur word teen R25 per spel of sessie. (ANGELIQUE ERASMUS)
Padel vir ’n goeie doel
