Pa sterf in botsing, twee kinders erg beseer

Foto’s Foto: Liesel le Roux

’N PASTOOR wat in die Rooiheuwelomgewing buite Oudtshoorn woon, het Maandagoggend gesterf en sy seun (8) en dogter (6) is ernstig beseer toe die Mazda waarmee hy gery het en ’n Isuzu-bakkie in ’n botsing op die Rooiheuwelpad buite Oudts-hoorn betrokke was.

Paramediese personeel op die toneel kon nie daarin slaag om Nkosinati Qanjana (36) se lewe te red nie en hy is kort ná die botsing oorlede.

Die twee kinders, Okuhle Gqazana (6) en haar broer Onalo Gqazana (8), is tans in onderskeidelik die Rooi Kruishospitaal in Kaapstad en die George Hospitaal nadat hulle albei ernstig in die botsing beseer is.

Volgens kapt Louis Visser, polisie-woordvoerder, was Qanjana na bewering op pad om sy twee kinders skool toe te vat toe die botsing omstreeks 06:50 plaasgevind het. Hy het van ’n grondpad in die Rooiheuwelpad ingedraai toe die twee voertuie mekaar getref het.

Die seun het hoofbeserings opgedoen en is met die AMS-helikopter na die George Hospitaal geneem, terwyl die meisie per ambulans na die Oudts­hoorn Hospitaal geneem is. Sy is later die dag na die Rooi Kruishospitaal oorgeplaas.

Een van die agt mense wat tydens die botsing agterop die bakkie gesit het, is ook beseer. Die bestuurder en res van die mense agterop die bakkie is nie beseer nie.

Qanjana se vrou en baba asook verskeie ander inwoners van die omgewing was op die botsingstoneel. Die gesin het nie ver van die ongeluks-toneel gewoon nie.

Die pad was sowat drie ure lank gesluit terwyl die beseerdes uit die motor bevry en van die toneel vervoer moes word, en die voertuie verwyder is.
Die Polisie ondersoek ’n klagte van strafbare manslag. (Deur Liesel le Roux)