Owerhede waarsku teen dronkbestuursarrestasies

Bo: ’n Fietsryer is Woensdag, 3 Desember, ongeveer 17:00 ernstig beseer nadat hy deur ’n voertuig getref is. Foto: Kevin Thorne Lewis Onder: aziel Okkers het op 21 November gesterf nadat hy deur ’n voertuig getref is. Heelonder: Ivory Josephs is op 29 November oorlede nadat sy op die sypaadjie raakgery is. Foto’s: Facebook

’n Fietsryer is verlede week Woendag (3 Desember) in Parkweg beseer nadat hy deur ’n voertuig getref is. Die man is met ’n ambulans na die Oudtshoorn Hospitaal geneem en later na die George Hospitaal vervoer vir verdere mediese behandeling.

Volgens ’n inskrywing op Facebook deur ’n kollega van die beseerde, is sy rug op twee plekke gebreek, en een van sy niere verwyder.

Volgens lt. kol. Malcolm Pojie, media-skakelbeampte van die SAPD in die Suid-Kaap, is ’n saak van nalatige- en dronkbestuur geopen teen die bestuurder van die betrokke voertuig. Die bestuurder het Vrydag (5 Desember) in die Oudtshoorn-landdroshof voorgekom en is op borgtog van R2 000 vrygelaat.

Hierdie voorval kom te midde van ’n skerp toename in dronkbestuursarrestasies in die Wes-Kaap.

Op 29 November het die 11-jarige Ivory Josephs gesterf nadat sy op die sypaadjie deur ’n motor getref is. Volgens lt. kol. Pojie is ’n saak van strafbare manslag geopen deur die Oudtshoorn SAPD na die voorval.

Die verdagte is in hegtenis geneem op aanklagte van strafbare manslag en dronkbestuur. Hy het in die Oudtshoorn-landdroshof verskyn, waar die saak uitgestel is vir verdere ondersoek. Hy is op R500 borg vrygelaat.

Op 21 November is Faizel Okkers (26) naby Asla, buite De Rust, doodgery. Omstanders beweer dat die bestuurder van die voertuig moontlik onder die invloed van drank was. Die bestuurder se identiteit is nie bekend nie, maar die polisie ondersoek ’n klag van strafbare manslag.

Die Wes-Kaapse Mobiliteitsdepartement het onlangs bevestig dat 24 mense binne net een week vir bestuur onder die invloed gearresteer is.

Mobiliteitsminister Isaac Sileku het sy kommer uitgespreek oor die groeiende probleem. Hy sê dat elke bestuurder wat na drinkery agter die stuur inklim, nie net hul eie lewe in gevaar stel nie, maar ook die van ander. Met die feestyd wat voorlê, word wetstoepassing verskerp om padgebruikers te beskerm.

Hoofdirekteur van Verkeersbestuur, Maxine Bezuidenhout, het bygevoeg dat selfs klein hoe-veelhede alkohol iemand se oordeel en reaksievermoë kan beïnvloed.

Sy het die publiek versoek om verantwoordelik op te tree en nie die veiligheid van ander in gevaar te stel nie.

Owerhede beklemtoon dat motoriste en die gemeenskap saam moet staan om dronk bestuur te verminder, veral nou in Desember wanneer verkeersdruk, partytjies en sosiale byeenkomste toeneem.
Lede van die publiek word aangeraai om vooruit te beplan deur ’n nugter bestuurder aan te wys, gebruik te maak van alternatiewe vervoer, oor te bly waar hulle kuier, of iemand anders vir ’n geleentheid te vra.

Mense word ook gemaan om nie saam met iemand te ry wat gedrink het nie, selfs al is dit ’n kennis.
“Jou besluit kan ’n lewe red,” waarsku verkeersbeamptes.

Oudtshoorn se uitvoerende burgemeester Johan Allers het tydens sy toespraak by die Liggiefees ’n beroep op inwoners gedoen om verantwoordelik te wees, en gewaarsku teen die gevare van alkoholmisbruik.

Volgens die Nasionale Verkeerswet is die toelaatbare alkoholvlak 0.05 gram per 100 ml bloed of 0.24 milligram per 1 000 ml vir ’n asemtoets. Dit is gelykstaande aan een 330 ml blikkie bier.
Oortreders kan volgens die wet ’n boete van R120 000 of ses jaar tronkstraf opgelê word.