Oval Karting klub vir Oudtshoorn

Deon de Villiers in aksie. Foto: Marliny Steyn

Oudtshoorn Oval Karting, ’n splinternuwe klub, met petrol in hul are, bied die naweek van 11 Mei 2024, hul eerste ren op die Red Rock Raceway ovaalbaan net buite Oudshoorn aan.

Die klub het reeds 15 lede van Oudtshoorn.

Wat hierdie ren so interessant maak, is die grootte, tipe enjin en verskeie klasse waarin die renjaers, jonk en oud deelneem, en teen mekaar kragte meet.

Die ren vind soos die stockars ook op ’n grond ovaalbaan plaas, maar op ’n kleiner baan binne die groot baan.

Daar is Saterdag vyf opwindende klasse waarin renjaers in hul vinnige motors gaan deelneem.

Hierdie klasse begin by die Development en 160/200cc klas. Hier mag kinders van 5-14 jaar deelneem, en die volwassenes apart. Die 270cc jaers mag eers van 10 jaar en ouer deelneem

Daar is ook ’n 390 en Super Mods-klas wat vir groot opwin-ding gaan sorg. Die Super Mods is ook die vinnigste klas, met die minste enjin beperkings.

Die motors is almal agterwiel aangedrewe, en het slegs remme op die agterwiele. Hierdie motors gebruik petrol of AVGAS, ’n brandstof met ’n hoër oktaan.

Die wegspring begin met ’n “rollling start” wat beteken die motors ry een rondte om die baan, en sodra die vlag vir die wegtrek gewaai word, kan hulle voet in die hoek sit en teen mekaar kompeteer. Daar word voorsiening gemaak dat renjaers mekaar op die eerste van ’n minimum 7 rondtes mag verbysteek. Die hoeveelheid rondtes word bepaal deur die hoeveelheid motors met twee ekstra rondtes wat bygevoeg word bv. 7 motors + 2 = 9 rondtes.

Sou daar meer as 10 motors wees in die Development en 160/200 cc klas, word daar twee uitdunne gehou. By die 270 en op, word slegs 12 motors per rondte toegelaat, voor hul in uitdunne opgedeel word.

Soos stockars, ry hul ook kloksgewys of antikloksgewys in die verskeie klasse. Die bestuurders word vir elke rondte wat hul ren, punte toegeken, wat nie net hul posisie vir die volgende rondte bepaal nie, maar ook hul algehele plek op die ranglys in dié motorsport. Saterdag se renjaers sal elkeen in vier rondtes teen mekaar kompeteer voor die finale rondte’s later die aand.

Maak gerus ’n draai op Saterdag by die Red Rock Raceway buite Oudtshoorn. Hekke open 12:00 en die ren begin 15:00. Toegang is R50 vir volwassenes en R20 vir kinders 12 jaar en jonger.
Renjaers wat steeds wil inskryf het kans tot Vrydag,10 Mei om 18:00.

Kontak gerus vir Cobus Neethling by 073 828 2822 of Juan Steyn by 072 100 0593 vir meer inligting.

Besoek ook gerus hul Faceboekblad, Oudtshoorn Oval Karting waar al die naweek se inskrywings besigtig kan word.