Die Oudtshoorn Polisie wil inwoners van Oudtshoorn waarsku teen die kommerwekkende styging van bedrog en piramide skemas wat talle inwoners intrek en bedrieg.
Op hierdie oomblik word daar ’n saak ondersoek in Oudtshoorn waar tot 300 mense ingeloop is en hul swaar verdiende geld verloor het as gevolg van ’n skelm beleggingsgeleentheid wat die koop van virtuele visse behels het.
Johan Slomp, waarnemende bevelvoerder van die Oudtshoorn Speurdiens, het met Die Hoorn gesels en gesê dat die hoeveelheid sake wat gemaak is deur mense wat ingeloop word deur bedrogskemas, die afgelope tyd geweldig toegeneem het.
“Mense moet uiters versigtig wees met wat hulle met ander mense deel. Moenie jou identiteitsdokument vir enige iemand gee om namens jou iets te gaan doen nie, en moet veral nie jou pin op jou kaart skryf en ’n persoon stuur om vir jou geld te gaan trek nie.”
Dit is ook uiters belangrik om versigtig te wees as jy by ’n teller geld onttrek en bewus te wees van mense wat agter jou staan. Sodra die skelm jou wagwoord gesien het, is daar vele maniere wat hulle gebruik om jou te fnuik en jou bankkaart om te ruil met ’n ander kaart.
Slomp vertel verder dat daar ook ’n groot toename in bankbedrog is, waar jy ’n oproep of boodskap ontvang vanaf ’n ‘bank’ en die persoon sê dat daar ’n foutiewe transaksie op jou rekening was.
Hulle stuur dan vir jou ’n OTP, en sodra jy dit aan hulle gee, het hulle volle toegang tot jou bankrekening. Hy waarsku inwoners ook verder teen Faceboek-advertensies waar mense nie die item besigtig het voordat hulle die geld oorbetaal nie. Volgens hom kry hulle ten minste tien sake per maand waar goed-gelowige kopers hul geld verloor as gevolg van bedrogtransaksies.
“Die beste is om eerder betroubare verskaffers te gebruik vir enige aankope, of as jy iemand ken wat in die area is, eers na die item te gaan kyk om te sien of dit ’n betroubare verkoper is”, is Slomp se raad aan Oudtshoorniete.
Nog ’n groot geleentheid vir bedrog is mense wat kontantlenings adverteer. Volgens Slomp gebeur dit dan dat die bedrag wat jy wil leen ‘goedgekeur’ word deur die fiktiewe geldvoorskieter (loan shark), maar dat jy dan eers ’n bedrag moet betaal om die administratiewe kostes te dek.
“Soms is die bedrag wat mense moet inbetaal om sodoende die kontant te kan ontvang, amper meer as die oorspronklike bedrag wat geleen wou word”, vertel hy verder.
Sy raad aan die publiek is om baie versigtig te wees met persoonlike inligting en dokumente, en wees bedag op enige geldskema waar beweer word dat jou beleggingsbedrag in ’n maand se tyd kan verdubbel.
“As dit te goed is om waar te wees, is dit gewoonlik die geval”, het Slomp afgesluit. (Deur Lindi Brill)
Polisie waarsku teen die slenters
