Ouma, kinders sterf tragies tydens brand in De Rust

Foto’s: Links is Bettie Tities (73), ouma van Suzanne Tities (10), Nicole Tities (4) en Chloe Tities (4) wat Vrydag in De Rust omstreeks 04:25 tydens ’n brand in hul woonhut omgekom het. Hul liggame is onder die puin aangetref. Foto’s: Facebook

De Rust Polisie ondersoek die omstandighede rondom die dood van vier slagoffers tydens ’n brand by Nelsrivier, op Vrydag, 12 April 2024 wat omstreeks 04:25 uitgebreek het.

Bettie Tities (73), haar twee kleinkinders Suzaan Tities (10) en Nicole Tities (4), asook haar agterkleinkind, Nicole Tities (4), het in die brand gesterf.

Beskikbare verslae dui aan dat nooddienste ontbied is oor ’n woonhut wat gebrand het. By hul aankoms het die polisie die liggame van vier slagoffers onder die puin aangetref.

Getuieverslae dui aan dat ses mense binne die woning geslaap het toe dit begin brand het. Twee persone kon egter ontsnap.

’n Dossier is geopen vir verdere polisieondersoek. Die oorsaak van die brand is nie bekend nie.

Daar moet nog vasgestel word wat die oorsaak van die brand was, en dit vorm deel van die voortgesette polisieondersoek.

Daar word egter op hierdie stadium vermoed dat geen ongerymdhede plaasgevind het nie.
’n Kransleggingsdiens het Woensdag, 17 April by die perseel plaasgevind, waar die gemeenskap onder leiding van Leon Campher, gemeenskaps-leier en voormalige raadslid en stigter van die OCAC (Oudtshoorn Community Agains Crime) groep die familie ondersteun en bystaan deur die traumatiese voorval. (Deur Lindi Brill)