Nuwe hoop vir kleuterskool

Bo: Die Bongolethu Kindersorgsentrum word tans tydelik in die Bongolethu Gemeenskapsaal geakkommodeer. Foto: Videogreep YouTube video

Bongolethu kindersorgsentrum het verlede jaar op 26 Julie 2023 tot op die grond afgebrand.

Die sentrum was op die hoek van 8ste en 13de laan geleë en bestaan alreeds 29 jaar.

Daar is tans sowat 165 kinders tussen die ouderdom van 2-6, wat daagliks hiér skool gaan.

Met Die Hoorn se besoek aan die skool na die brand in 2023, was die onderwysers ongelooflik hartseer en emosioneel oor die groot verlies en skade wat aangerig was.

Dit was hartverskeurend om ’n handjievol kindertjies te sien swaai op die swaai – al wat nie verwoes was nie en steeds bruikbaar was.

’n Hopie boeke met gebrande hoeke is eenkant gesit, in die hoop om dit op ’n manier te kan red en weer bruikbaar te maak.

Die hoof kon self nie haar trane keer nie, en het woordeloos net gesit en toekyk hoe die perseel opgeruim word.

Omtrent alles is in die brand verwoes, en daar moes dringend na ’n tydelike nuwe perseel gesoek word om die kinders te akkommodeer.

Daar is tydelik plek vir hulle gemaak in die Bongolethu Gemeenskapsaal, waar die kinders daagliks ’n ontbyt en middagete kry.

Hierdie kleuters kom meestal uit baie arm huislike omstandighede en dit is vir baie van hulle die enigste etes wat hulle kry.

Die getalle kinders wat hier skoolgaan groei daagliks. Dit is veral moeilik om al die kinders bymekaar in die saal te hê. Die groter kinders se aandag word vinnig afgetrek deur al die bedrywighede wanneer hulle besig is met hul lessies, en die kleiner kinders ’n middagslapie moet neem, word gereeld wakker gemaak deur die groter kinders wat raas.

Daar is speelgoed en boeke deur barmhartige samaritane geskenk, maar dit is nog steeds nie genoeg vir al die kinders nie. Omtrent al die speelgoed en boeke is in die brand verwoes.

“Dit is ons grootste droom om weer ons eie skoolperseel en geboue te kan hê”, sê die skoolhoof, Judith Tyatya.

Karien Visser van die Moedergemeente se Liefde Leef-projek wat betrokke is by die projek sê hulle wil graag as gemeente by die herbou van die skool betrokke raak. “Ons het egter die hulp van borge nodig, omdat boukoste ’n redelike bedrag kan beloop,” het sy aan Die Hoorn gesê.

“Hierdie kinders gaan eendag die toekoms van Oudtshoorn wees”, sê Visser.

Die groep vra dat enige instansies in die dorp, soos die hoërskole dalk kan saamstaan en kan help met die herbou van die dagsorgsentrum.

Enige besighede wat hul harte vir hierdie kinders kan oopmaak en bydra tot die herbou van die skool sal ook welkom wees.

Om betrokke te raak by hierdie projek, kontak gerus vir Karien Visser by 083 751 4445.

Gaan kyk gerus op die Oudtshoorn Moedergemeente se YouTube-blad, na die Bongolethu Child Care Centre Projek video.

Die Bongolethu Kindersorgsentrum na die brand. Foto: Die Hoorn Argief

Die Bongolethu Kindersorgsentrum voor die brand. Foto: Videogreep YouTube video