Oudtshoorniete bespaar meeste

Rye voertuie met water­tenks agterop wag gister in St Saviourstraat vir ’n beurt om gesui-werde rioolwater te tap. Foto: Higgo Jacobs

OUDTSHOORNIETE se daaglikse waterverbruik is die laagste in die hele Tuinroete Distriksmunisipaliteit, maar die inwoners van Kannaland gebruik weer verreweg die meeste water.

Dit blyk uit statistiek wat die Distriksmunisipaliteit die week bekend gemaak het oor waterverbruik tydens die huidige versengende droogte in die verskillende dorpe in die Distriksmunisipaliteit.

Kyk ’n mens egter na die groot hoeveelhede voer­tuie wat elke dag gesuiwerde rioolwater tap by die punte in St Saviourstraat en by die rioolplaas is dit duidelik dat inwoners steeds probeer om hul tuine in die droogte te laat oorleef.

Adrian Jantjies, wat in beheer is van die kraan in St Saviourstraat, sê meer as 200 bakkies, motors en trokkies met watertenks staan daagliks tou om gesuiwerde water te tap. Sommige mense daag reeds om 05:00 op terwyl die kraan oop bly tot saans 08:00.