Dit was weereens ’n donker naweek vir Oudtshoorn met twee persone wat weereens hul lewe verloor het as gevolg van messteek wonde.
Flip Hendricks (54) is Verlede Vrydag, 8 Maart tussen 18:00 en 19:00 naby die Bridgton Garage doodgesteek.
Volgens ao. Joseph Swartbooi, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, het die Oudtshoorn polisie Vrydagaand ’n klag bygewoon in Sunrise Straat, Bridgton.
By aankoms is hulle ingelig dat die slagoffer na ’n nabygeleë hospitaal geneem is. By aankoms by die hospitaal het hulle die liggaam van ‘n 54-jarige man aangetref wat ‘n steekwond opgedoen het. Die slagoffer is ter plaatse deur die mediese personeel dood verklaar.
“Ons kan bevestig dat ‘n 53-jarige man op Sondag 10 Maart 2024 gearresteer is op ‘n aanklag van moord. Oudtshoorn-polisie ondersoek ‘n moord. Ons doen ‘n beroep op enigiemand met inligting om asseblief Misdaad Stop te skakel op 08600 10111, het Swartbooi in sy verklaring gesê.
Hendricks laat sy 6-jarige dogter en 33-jarige seun agter.
Op Saterdag, 9 Maart, het die 27-jarige Kaylee-Ann Windvogel haar lewe verloor toe sy in die vroeë oggendure gesteek is en later die dag in die hospitaal dood verklaar is.
Niemand is nog in verband met haar moord in hegtenis geneem nie.
Volgens ao. Joseph Swartbooi se verklaring aan Die Hoorn het die polisie ook gereageer op ‘n klag op Saterdag 09 Maart 2024. Met aankoms by ‘n plaaslike mediese fasiliteit omstreeks 13:00 het hulle die liggaam van ‘n 27-jarige vrou aangetref wat ‘n steekwond aan haar bors opgedoen het.
“Die slagoffer is ter plaatse deur die mediese personeel dood verklaar. Die verdagte het van die toneel gevlug en moet nog gearresteer word. Oudtshoorn-polisie ondersoek ‘n moord.
Enigiemand met inligting word vriendelik versoek om asseblief Misdaad Stop te skakel op 08600 10111.” Windvogel het ’n 5-jarige seun wat agtergelaat word.
