3 sterf in twee ongelukke

Bo: Henrico Plaatjies en sy suster Marisa Plaatjies het die Saterdag in ’n ongeluk gesterf. Foto’s: Facebook

Drie persone is in twee afsonderlike voorvalle op paaie om Oudtshoorn oorlede.

Op Maandag, 11 Maart, omstreeks 23:00 is ’n onbekende man deur ’n blou Ford, sowat 10 km buite Oudtshoorn in Calitzdorp se rigting op die R62 raakgery.

Die bestuurder het die voetganger getref. Die man het veelvuldige beserings opgedoen en is later deur mediese personeel op die toneel dood verklaar. Volgens lt-kol Malcom Pojie, woordvoerder van die Suid-Kaap Polisie, ondersoek die polisie ’n klag van manslag teen die bestuurder.

“Nog geen arrestasies is gemaak nie, die saak word steeds ondersoek,” het hy gesê.
In nog ’n voorval het ’n broer en suster, Henrico (Rico) Plaatjies (38) en Marisa Plaatjies (29) gesterf toe die voertuig waarin hulle was, deur ’n ander voertuig getref is. Daar was vier passasiers in die motor gewees.

Die ongeluk het Saterdagaand 9 Maart, omstreeks 23:15 tussen Dysselsdorp en De Rust gebeur. Beide voertuie het in Oudtshoorn se rigting beweeg. “Die broer en suster is op die toneel dood verklaar.

Nog ’n insittende wat in ’n ernstige toestand was is na Oudtshoorn hospitaal geneem, terwyl die 4de insittende op die toneel behandel is. Die bestuurder van die ander voertuig het ook ernstige beserings opgedoen en is na die hospitaal geneem vir behandeling,” het lt-kol Malcom Pojie, aan Die Hoorn gesê. ’n Klag van strafbare manslag word tans deur Dysselsdorp Polisie ondersoek.

Leon Campher, gemeenskapsleier en die stigter van Oudtshoorn Community Against Crime (OCAC), gaan vandag om 17:00 ’n kranslegging-seremonie hou, waar die ongeluk plaasgevind het ter nagedagtenis van die tragedie en ondersteuning van die familie. (Deur Angelique Erasmus)