Oudtshoorn staan saam teen kanker

’n Inwoner van Oudtshoorn ontvang tans weekliks behandeling vir kanker in George. Die foto is tydens een van haar behande-lingsessies geneem. Foto verskaf

’n Nuwe plaaslike ondersteuningsgroep wil verseker dat niemand in Oudtshoorn alleen deur kankerbehandeling hoef te gaan nie.

Die groep word op die been gebring as ’n inisiatief van die Oudtshoorn Besigheidskamer en sal inwoners, ondernemings en vrywilligers verbind met mense wat kankerbehandeling ontvang en hul gesinne.

Die doel is nie net om emosionele ondersteuning te bied nie, maar ook om te help met die praktiese dinge wat tydens behandeling maklik oorweldigend kan raak.

Hulp kan iets so eenvoudig wees soos om ’n maaltyd voor te berei, kinders skool toe of na aktiwiteite te vervoer, met huiswerk te help, inkopies te doen of net ná ’n moeilike behandeling vir iemand ’n koppie tee te maak of saam tee te drink.

Daar is ook ’n behoefte aan saamrygeleenthede vir mense wat vir behandeling na George moet reis. Dié ritte kan lang dae, groot brandstofuitgawes en bykomende spanning meebring – veral wanneer iemand nie self kan bestuur nie of ondersteuning tydens die reis nodig het.

Die ondersteuningsgroep wil ’n netwerk van inwoners skep wat kan help waar en wanneer hulle beskikbaar is. Niemand hoef alles te doen nie. Een persoon kan dalk een keer per maand ’n ete maak, ’n ander kan met vervoer help en iemand anders kan bloot ’n uur afstaan om by iemand te gaan sit.

Vir iemand wat behandeling ondergaan, kan so ’n klein gebaar ’n groot verskil maak.

Meer as 91 000 gevalle in een jaar: Die geraamde leeftydrisiko vir ’n kankerdiagnose is een uit elke sewe Suid-Afrikaanse mans en een uit elke agt vroue. Omdat die nasionale register hoofsaaklik op patologieverslae steun, word sommige gevalle moontlik nie by dié syfers ingesluit nie.

Prostaatkanker was in 2024 die kanker wat die meeste onder Suid-Afrikaanse mans aangemeld is, terwyl borskanker die meeste onder vroue aangemeld is. Servikale kanker was die tweede algemeenste kanker onder vroue.

Agter elke statistiek is daar egter ’n mens – en dikwels ook ’n gesin wat saam met daardie persoon deur die diagnose, behandeling en herstelproses gaan.

Kanker raak nie net die persoon se gesondheid nie. Dit beïnvloed gesinsroetines, werk, finansies, vervoer, kinders en die daaglikse bestuur van ’n huishouding. Dit is juis hier waar ’n sterk gemeenskapsnetwerk ’n betekenisvolle verskil kan maak.

Elkeen kan iets bydra: Inwoners hoef nie mediese kennis of ervaring met kanker te hê om by die groep betrokke te raak nie. Die ondersteuning sal prakties en volgens elke vrywilliger se beskikbaarheid gekoördineer word.

Mense kan onder meer help met:
• voorbereide etes vir mense wat behandeling ontvang en hul gesinne;
• vervoer na plaaslike afsprake of behandeling in George;
• saamrygeleenthede vir mense wat op dieselfde dag reis;
• die vervoer van kinders na en van die skool of buitemuurse aktiwiteite;
• hulp met huiswerk, inkopies of ander alledaagse take;
• ’n besoek, ’n gesprek of bloot ’n koppie tee ná behandeling; en
• ondersteuning aan die gesin of versorger van iemand met kanker.

Plaaslike ondernemings wat etes, brandstof, vervoer of ander dienste kan borg, word ook genooi om deel van die netwerk te word.

Die privaatheid en waardigheid van almal wat hulp ontvang, sal deurgaans gerespekteer word. Ondersteuning sal volgens die behoeftes en toestemming van elke persoon en gesin gereël word.

Mense wat deur kanker geraak word en hulp benodig, asook inwoners en ondernemings wat by die ondersteuningsnetwerk wil aansluit, kan Die Hoorn kontak.

Kontakbesonderhede:
• Kantoor: 044 272 5605
• Angelique Erasmus: 076 606 2554
• E-pos: redaksie@hoorn.co.za

Niemand kan ’n kankerdiagnose vir ’n ander persoon wegneem nie, maar ’n gemeenskap kan help om die pad ’n bietjie ligter en minder eensaam te maak.

Be the first to comment on "Oudtshoorn staan saam teen kanker"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*