Byna een uit elke drie inwoners van die Wes-Kaap voel onveilig wanneer hulle selfs bedags alleen in hul woonbuurt stap, terwyl die provinsie ook die hoogste persentasie mense aangeteken het wat die afgelope jaar diefstal van persoonlike eiendom ervaar het.
Dit blyk uit Statistieke Suid-Afrika (Stats SA) se jongste Governance, Public Safety and Justice Survey (GPSJS) vir 2025/26, wat Dinsdag, 1 September, bekend gemaak is.
Volgens die opname het 30,1% van mense van 16 jaar en ouer in die Wes-Kaap gesê hulle voel onveilig wanneer hulle bedags alleen in hul woonbuurt stap, die hoogste persentasie van al nege provinsies. Gauteng het gevolg met 25,8%.
Die prentjie verander verder na donker. Slegs 44,1% van Wes-Kaapse respondente het aangedui dat hulle veilig voel wanneer hulle in die donker alleen in hul woonbuurt stap. Dit beteken 55,9% het aangedui dat hulle onveilig voel. Landwyd het net 37,9% van mense gesê hulle voel veilig om na donker alleen te stap.
Diefstal van persoonlike besittings
Die Wes-Kaap het ook die hoogste persentasie mense aangeteken wat diefstal van persoonlike eiendom ervaar het.
Volgens die opname het sowat 191 000 mense in die provinsie dié soort misdaad gedurende die voorafgaande 12 maande ervaar.
Sowat 200 000 voorvalle van diefstal van persoonlike eiendom is in die Wes-Kaap geraam.
Landwyd was diefstal van persoonlike eiendom die misdaad wat die meeste deur individue ervaar is, met sowat 1,4 miljoen voorvalle wat ongeveer 1,2 miljoen mense geraak het.
Slegs 37,3% van slagoffers het van die voorvalle by die polisie aangemeld.
Huisbraak bly groot probleem
Huisbraak was steeds die misdaad wat huishoudings landwyd die meeste geraak het.
Meer as 1,5 miljoen voorvalle is gedurende 2025/26 geraam, wat sowat 1,08 miljoen huishoudings geraak het. Dit verteenwoordig 5,3% van alle huishoudings in Suid-Afrika.
Net 48,2% van huishoudings wat huisbraak ervaar het, het sommige of al die voorvalle by die polisie aangemeld.
In die Wes-Kaap het ongeveer 93 000 huishoudings huisbraak ervaar, met na raming 135 000 voorvalle.
Die opname toon ook dat huishoudings in nie-metropolitaanse gebiede landwyd effens meer geneig was om huisbraak te ervaar as dié in metrogebiede.
Meer mense tref hul eie voorsorg
Die aantal Suid-Afrikaners wat stappe doen om hulself teen misdaad te beskerm, het intussen toegeneem.
Sowat 46,6% het in 2025/26 aangedui dat hulle iets gedoen het om hulself te beskerm, teenoor 43,3% die vorige jaar.
Die algemeenste voorsorgmaatreël was om slegs gedurende veiliger tye te stap, gevolg deur die aanbring van fisieke veiligheidsmaatreëls soos veiligheidshekke.
Die GPSJS meet mense se persoonlike en huishoudelike ervaring van misdaad en verskil dus van die misdaadstatistiek wat deur die SAPD bekend gemaak word. Dit sluit ook voorvalle in wat nooit by die polisie aangemeld is nie.
Misdaad dwing Suid-Afrikaners om self meer voorsorg te tref
Foto: Unsplash: Luis Villasmil
Be the first to comment on "Misdaad dwing Suid-Afrikaners om self meer voorsorg te tref"