Wanneer nood ’n kompetisie word

Ki-gegenereerde foto.

Jy maak Facebook oop en tussen die gewone plasings verskyn ’n BackaBuddy-skakel. Iemand het hulp nodig.

Jy lees die storie, kyk na die bedrag wat nog kort en oorweeg dit om te help. ’n Paar plasings verder verskyn nóg ’n skakel – ’n kind wat ’n operasie nodig het, ’n gesin wat alles in ’n brand verloor het of iemand wat nie behandeling kan bekostig wat moontlik sy lewe kan red nie.

Agter elkeen is ’n werklike mens met ’n storie, ’n behoefte en die hoop dat genoeg mense sal stop, lees en help. Tog het skarebefondsing ’n vreemde werklikheid geskep waarin dit nie meer net gaan oor hoe dringend die nood is nie, maar ook oor hoeveel mense dit raaksien.

Waarom bereik sommige veldtogte binne dae duisende mense, terwyl ander skaars verder as familie en vriende versprei? En wanneer nood, studies, persoonlike drome en selfs ’n reis oorsee op dieselfde platforms om aandag vra, wat bepaal uiteindelik wie ons hulp kry?

Wanneer almal gelyktydig om hulp vra
Skarebefondsing het dit vir gewone mense moontlik gemaak om hulp te kry op ’n skaal wat ’n paar dekades gelede byna ondenkbaar sou wees.

In Suid-Afrika het BackaBuddy een van die bekendste platforms hiervoor geword. Volgens die platform is meer as 150 000 veldtogte tussen 2015 en 2025 ondersteun en het die gemeenskap reeds meer as R1 miljard ingesamel.

Navorsing wys egter dat die dringendheid van iemand se behoefte nie die enigste faktor is wat bepaal hoeveel steun ’n veldtog ontvang nie.

’n Sistematiese oorsig wat in 2025 gepubliseer is, het 33 studies oor mediese skarebefondsing ondersoek. Die meeste van dié navorsing is buite Suid-Afrika gedoen en GoFundMe was die platform wat die meeste bestudeer is.

Faktore soos ’n persoon se sosiale netwerk, digitale vaardighede, omstandighede en die manier waarop die storie vertel word, kan ook ’n rol speel.

’n Studie van 1 127 mediese GoFundMe-veldtogte het byvoorbeeld bevind dat stories met meer besonderhede wat die persoon agter die veldtog na vore bring, met meer skenkings verband gehou het.

BackaBuddy se eie raad aan veldtogstigters sluit opvallend hierby aan. Die platform beveel aan dat mense eers drie tot vyf aanvanklike skenkings van familie en vriende probeer kry voordat ’n veldtog wyd op sosiale media versprei word. Volgens BackaBuddy help die vroeë steun om vertroue te skep.

Die stryd om sigbaarheid
Die aanbieding van die storie speel ook ’n rol. BackaBuddy raai veldtogstigters aan om duidelik te verduidelik vir wie die geld bedoel is en waarvoor dit gebruik sal word, en om foto’s of video te gebruik. Volgens die platform samel veldtogte met relevante video’s gemiddeld tot vier keer meer geld in.

Sigbaarheid strek ook verder as sosiale media. BackaBuddy moedig veldtogstigters aan om die media te nader en verskaf selfs ’n uitgebreide lys van media wat gekontak kan word. Tydens Die Hoorn se navorsing vir hierdie berig het ’n onverwagse naam op dié lys opgeduik – Die Hoorn self, kompleet met kontakbesonderhede. Die koerant was tot dusver nie daarvan bewus dat dit op BackaBuddy se medialys verskyn nie.

Mediadekking kan ’n veldtog ver buite die persoon se eie netwerk neem, net soos ’n groot vriendekring of sosialemediagehoor ’n aansienlike voorsprong in sigbaarheid kan bied. Iemand met ’n kleiner netwerk of beperkte internettoegang kan dieselfde bedrag ewe dringend nodig hê, maar dit moeiliker vind om genoeg mense te bereik.

Die internet het dit dus vir byna almal moontlik gemaak om hulp te vra, sonder om noodwendig vir almal dieselfde kans te gee om gehoor te word.

Die prentjie raak verder ingewikkeld omdat skarebefondsing nie net vir noodgevalle bestaan nie. BackaBuddy maak ook ruimte vir studies, sport, gemeenskapsprojekte en persoonlike doelwitte.

Iemand wat geld vir mediese behandeling nodig het, kan dus op dieselfde platform verskyn as iemand wat vir ’n oorsese geleentheid, studies of ’n persoonlike droom geld insamel. Dit beteken nie dat net die ernstigste vorm van nood ondersteuning verdien nie, maar dit laat die publiek toenemend self besluit waarmee hulle wil help.

Die prys van sigbaarheid
Die behoefte om ’n veldtog sigbaar te maak, kan ook ’n minder ooglopende prys hê – privaatheid.
Om vreemdelinge te laat verstaan waarom hulp nodig is, beteken dikwels dat persoonlike inligting openbaar gemaak word, waaronder mediese diagnoses, finansiële probleme, familieomstandighede en foto’s van kinders op van die moeilikste dae van hul lewe.

Mense moet dus genoeg van hul storie vertel dat ander die erns van hul omstandighede verstaan, sonder om meer van hulself prys te gee as waarmee hulle gemaklik is. Wanneer die alternatief is om sonder behandeling of ander noodsaaklike hulp klaar te kom, kan die grens moeilik wees om te trek.

BackaBuddy maak voorsiening vir die verifikasie van veldtogte en kan verdere dokumentasie of verwysings aanvra voordat geld uitbetaal word. Dit kan help om vertroue in ’n veldtog te skep, maar bepaal nie hoeveel mense die storie uiteindelik sal sien nie.

Dit is dalk die ongemaklike teenstrydigheid van skarebefondsing. Dit bied mense ’n manier om hulp te kry wat andersins dalk buite hul bereik sou wees, terwyl die sukses daarvan deels kan afhang van faktore wat min met die erns van hul nood te doen het.

Wanneer nood ’n kompetisie om aandag word, is dit nie die mense in nood wat gekies het om teen mekaar mee te ding nie. Dit is ’n onbedoelde gevolg van ’n stelsel waarin baie mense op dieselfde plek hoop om gehoor en gehelp te word.

Wanneer die volgende BackaBuddy-skakel op ons skerm verskyn, is daar dalk daarom ook ’n ander vraag om te vra: Wie se storie sien ons nie? (MALISSA SPIES)