DIE Groter Oudtshoorn se burgemeester, Chris Macpherson, het Dinsdag in ‘n sterk bewoorde verklaring Eskom skerp gekritiseer vir die verhoging van kragtariewe met 18,6% en gesê die munisipaliteit sal alles in sy vermoë doen om dié “onregverdige verhoging” teen te staan.
“Dié verhoging sal die armes en behoeftiges verder verarm en onredelike druk plaas op inwo-ners wat reeds te midde van strawwe ekonomiese omstandighede sukkel. Die verhoging sal ook verreikende negatiewe implikasies op die munisipaliteit se begroting hê.
“Hierdie oorhaastige en irrasionele besluit deur ’n diensverskaffer wat tans nie eens vyftig persent van sy dienslewering bereik nie, kan reeds sukkelende munisipaliteite in duie laat stort. Hoe kan Eskom die paar munisipaliteite straf wat hul rekeninge nougeset betaal én dit onmoontlik maak vir diegene wat agterstallig is om hul situasie reg te stel?”
Daily Maverick het in 2022 berig dat 96 uit die 278 munisipaliteite in die land Eskom einde Julie gesamentlik sowat R50 miljard geskuld het. Slegs vier van die munisipaliteite was in die Wes-Kaap (op 11 Augustus 2022), naamlik Matzikama, Beaufort-Wes, Cederberg en Kannaland.
Macpherson sê die regering en Eskom moet uitgedaag word om ’n lys te publiseer van al die munisipaliteite wat Eskom miljarde in uitstaande geld skuld, asook die stand van betalings deur buurlande wat krag van Eskom ontvang.
“Dit is tyd dat belastingbetalers en munisipaliteite wat hul rekeninge gereeld betaal, sê genoeg is genoeg en die regering dwing om verantwoordelikheid te aanvaar vir die korrupsie en staatskaping wat die land lamgelê het.
“Eskom is ’n skokkende voorbeeld van wat gebeur wanneer ’n regering toelaat dat eiebelang en selfverryking ’n prioriteit is. Hoe op aarde kan die regering eenvoudig tariefverhogings toelaat terwyl miljarde uitstaande is van munisipaliteite en buurlande?”
Ekonomiese implikasies vir munisipaliteit
Volgens Macpherson het beurtkrag ernstige ekonomiese implikasies vir die munisipaliteit wat sal vererger na so ’n tariefverhoging.
- Besighede verloor handelsure wat die inkomste en salarisse van personeel beïnvloed. Dit het op sy beurt ’n negatiewe impak op die betaling van munisipale dienste.
- Die munisipaliteit bestee tans honderde duisende rande aan brandstof vir kragopwekkers.
- Met beurtkrag is watertoevoer na De Rust, Dysselsdorp en die landelike waterskema ’n groot uitdaging omdat pompe nie lank genoeg kan werk om die reservoir te vul nie.
Watervragmotors moet as gevolg hiervan groot afstande aflê om water te verskaf, wat enorme koste soos diesel en swak dienslewering tot gevolg het.
Volgende moontlike kragbronne ondersoek
Macpherson sê die munisipaliteit ondersoek tans ander moontlike kragbronne wat die munisipaliteit en inwoners minder afhanklik van Eskom kan maak. Dit sluit die volgende in:
- Die aankoop van krag van onafhanklike verskaffers wat sonkrag gebruik;
- Die ontwikkeling van ’n 100 MW-sonkrag-aanleg;
- Gesprekke oor die moontlikheid om hidrokrag by die Raubenheimerdam op te wek;
- Die installering van UPS-stelsels om verkeersligte te bedryf. (Deur Liesel le Roux)