Oudtshoorn se kraanwater weer veilig

Water-1

Deur Liesel le Roux
OUDTSHOORN se kraanwater is eindelik weer veilig om gedrink te word!

Die Oudtshoorn Munisipaliteit het gister ’n persverklaring uitgereik dat die jongste bakteriologiese uitslae aandui dat die dorp se water weer veilig is vir menslike gebruik.

Dit volg nadat inwoners die laaste aantal weke die dorp se kraanwater moes kook nadat stortreën in die opvanggebied van die Raubenheimerdam modder en roet in die dam laat beland het. Oudts­hoorn se drinkwater kom van die Raubenheimerdam. Die plantegroei om die dam is in Desember deur veldbrande vernietig.

Volgens die persverklaring is die water wat tans in die dam invloei suiwer bergwater.

Die burgemeester, Colan Sylvester, het ook die week die inwoners van Oudtshoorn bedank vir hul geduld oor die watersituasie die afgelope paar weke.