Oudtshoorn rou oor klein Ashwin

Ashwin Jonkerman (7). Foto verskaf

Die 7-jarige Ashwin Jonkerman, ’n leerder van De Villiers Primêr, is Sondagoggend, 11 Augustus, aan onverklaarbare oorsake oorlede.

Volgens sy ma, Drezene Jonkerman, is sy Sondagoggend kerk toe, maar sy het Ashwin saam met ’n vriendin van haar by die huis gelos omdat hy moeg was en wou slaap.

“Ek het nog gedink dat dit snaaks is dat hy so slaperig is, omdat hy altyd so besig was en nie sommer wou gaan slaap het nie”, het ’n getraumatiseerde Jonkerman vertel.

Volgens haar het sy na kerk huis toe gegaan, maar toe sy daar kom kon hulle Ashwin nie wakker kry nie.

Die gesin se buurvrou het noodhulpkennis en sy het na hom kom kyk en besef dat dat hy geensins reageer nie. Die ambulans is geskakel en met die aankoms van paramedici is die seun dood verklaar by die huis.

Volgens Jonkerman is ’n nadoodse ondesoek Dinsdag in George uitgevoer. Teen spertyd was die uitslag van die ondersoek nog nie bekend nie. ’n Navraag is aan die SAPD se Suid-Kaapse kommunikasiebeampte, sersant Chris Spies, gestuur.

Volgens Spies is ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen nadat die liggaam van ’n 7-jarige seun op Sondag 11 Augustus 2024 omstreeks 11:30 by sy woning gevind is.

Luidens berigte wat in dié stadium beskikbaar was, is die Oudtshoorn-polisie na die toneel in Korhaanlaan, Bridgton, ontbied. Met hul aankoms het hulle die liggaam van die seun in sy slaapkamer aangetref. Paramedici het hom later op die toneel dood verklaar.

’n Nadoodse ondersoek om die oorsaak van dood te bepaal, is reeds gedoen.

Die inhoud van die verwagte verslag vorm deel van die voortgesette polisieondersoek. (Deur Lindi Brill)