Dat die musiekvervaardiger, komponis, sanger, musiekkundige en oud-Struisie, Helmut Meijer, ’n impak op honderde lewens gehad het en ’n diep, onuitwisbare spoor in die musiekwêreld getrap het, is duidelik uit die massa huldeblyke wat van oor die land heen gedeel word na sy afsterwe verlede Saterdag aan ’n hartaanval.
Hy is in 2015 reeds met ’n gesondheidstoestand van sy hart gediagnoseer en het binne enkele jare drie hartprosedures ondergaan om stente te ontvang.
Helmut se grootwordjare was in Oudtshoorn waar hy sy hoërskoolloopbaan aan Oudtshoorn Hoërskool voltooi het. Sy skielike dood is nog ’n groter skok aangesien hy slegs vier maande gelede met sy droomvrou, die sangeres René de Klerk, getroud is. Die paartjie het in Stellenbosch gewoon.
Dit is moeilik om uit al die dinge wat in nuusberigte en op sosiale media oor hom gesê word saam te vat. Die Hoorn het die sakeman en rolprentvevaardiger, Cobus van den Berg genader en hy verwoord die invloed wat Helmut op mense en op die musiek- en filmbedryf gehad het met ’n vraag: “Waar begin mens? Hoe beskryf jy bo-menslike talent sonder om dit persoonlik te beleef of deel daarvan te wees? Integriteit, toewyding, liefde, omgee, ’n besonderse sin vir humor, ’n ware vriend deur dik en dun, ’n positiewe lewens-uitkyk ten spyte van sy eie gesondheidsuitdagings, en ’n man van God is waarskynlik hoe ek Helmut in net ’n paar woorde kan opsom.”
Cobus en Helmut se paaie het in 2012 gekruis met die verfilming van die film, Klein Karoo. Volgens hom was Helmut die natuurlike keuse om die rolprent se musiek te komponeer, want hy het in Oudtshoorn grootgeword, sy ouers het in 2012 nog daar gewoon en die rolprent is in Oudtshoorn gekiet. “Soos ons hele span, was Helmut ook ’n groentjie sover dit film “scoring” betref en ons as vervaardigers was opgewonde oor die klanke waarmee Helmut vorendag gekom het. Dit het so goed gepas by die toon en gevoel van die film en het dit letterlik een met die Klein Karoo-natuur gemaak.”
Volgens Van den Berg het Helmut se ware passie en integriteit werklik eers tot hulle deurgedring toe die klankmenger hulle verwittig dat daar ’n groot probleem opgeduik het. “Kort nadat ons afgeteken het op die musiek en Helmut al ten volle betaal was vir sy dienste wys die redigeerder en klankmenger ons daaroop dat die musiek nie kan doen wat nodig is om die tonele aanmekaar te weef nie. Die “scoring” is onvolledig – natuurlik die gevolg van ons almal se gebrek aan ondervinding. Ons het eenvoudig nie die begroting gehad om die groot veranderinge aan te bring nie.”
Hy vertel dat Helmut toe reeds sy Sabatsjaar in Israel begin het – hy het Hebreeus studeer – maar dat hy hom uit radeloosheid gebel het en van die krisis ingelig het. “Dalk, dink ek, kan hy met ’n paar voorstelle kom, maar hy val my in die rede en bied aan om op die volgende vlug terug te vlieg Suid-Afrika toe. ’n Dag later is Helmut terug en dit neem die talentvolle reus vier dae om op instruksie van die klankmenger presies te doen wat nodig is. Wie nog het soveel integriteit en gee soveel om, het ek gedink.”
Helmut het daarna ook die musiek vir Klein Karoo 2 en die Kyknet-reeks Plan B gekomponeer.
As musiekvervaardiger, komponis, sanger en SAMA-wenner het Helmut die respek en bewondering van Suid Afrika se bekendste musikante en musiekkenners afgedwing en volgens elke huldeblyk het sy sukses nooit sy nederigheid oorskadu nie.
Dit is duidelik dat die afsterwe van hierdie seun van Oudtshoorn ’n reusegaping nie net in die musiekwêreld nie, maar ook in talle mense se lewens laat.
Afsterwe van Helmut Meijer groot slag
Helmut Meijer op sy troudag, vroeër van jaar op 7 April. Foto Facebook