
Oudtshoorniete was Saterdagaand in ekstase toe Mia le Roux (28), oud-Struisie, as die nuwe Mej. Suid-Afrika gekroon is. Die spoggerige kroningsgeleentheid het by die SunBet Arena in Pretoria plaasgevind en is regstreeks op SABC 3 uitgesaai.
Met die aankondiging van die topsewe, topvyf-, topdrie- en toe toptwee-finaliste is Mia luidkeels deur die gehoor en mense in die sitkamers in Oudtshoorn toegejuig.
Asems is opgehou totdat die aanbieder Mia se naam as wenner aangekondig het.
Die gejuig kon tot in die strate gehoor word en nou, amper ’n week later, stroom die gelukwense steeds in.
Die video van die oomblik toe sy gekroon is wat op Die Hoorn se Facebookblad geplaas is, is teen druktyd sowat 142 000 keer gekyk, het sowat 4 300 reaksies gelok, bykans 400 kommentare en is amper 390 keer gedeel.
Statistieke toon dat die video selfs in ander lande soos China, Kanada, die VSA en Nieu-Seeland gekyk is. Mia het vir seker haar grootworddorp op internasionale vlak laat “trend!”
Mia het geskiedenis gemaak deur die eerste gehoorgestremde persoon te wees om dié gesogte titel te wen. Sy het ná haar kroning aan Die Hoorn vertel dat sy die Mej. SA-platform juis wil gebruik om meer bewusmaking te skep vir gehoorgestremdheid.
Op ’n vraag oor hoe sy gevoel het die oomblik toe sy as wenner aangekondig is, het Mia gesê sy was “geskok, verstom, emosioneel en in ekstase.”
Sedert haar kroning het sy nog skaars grond gevat, vertel Mia. “Hierdie week het ek reeds ’n magdom televisie-, radio-, koerant- en aanlynonderhoude gevoer en daar lê nog baie vir die volgende week voor. Die ondersteuning wat ek tot nou toe ontvang het is ongelooflik en ek is oneindig dankbaar daarvoor.”
Sy het ook in haar pragtige drie- slaapkamerwoonstel in Gauteng ingetrek en het Donderdag die motorsleutel van haar Mercedes-Benz GLC Coupé ontvang, haar geborgde ryding vir die jaar.
Mia vertel dat dit nog vir haar onwerklik voel dat sy in November aan die Mej. Heelal-kompetisie in Mexiko gaan deelneem. “Ek moet myself gereeld knyp om seker te maak ek droom nie,” vertel sy vrolik. “Dit gaan vir my ’n groot eer wees om my land op ’n internasionale vlak te verteenwoordig.
Ek gaan hierdie geleentheid en my kroningsjaar gebruik om mense bewus te maak van die daaglikse uitdagings wat persone met gehoorprobleme ervaar.”
“Mense wat doof is, het nie simpatie nodig nie. Om nie te kan hoor nie affekteer nie ons intelligensie nie, en maak ons nie minder in staat om take uit te voer nie.”
“Ons het net ’n bietjie meer hulp nodig wanneer dit kom by toeganklikheid van sekere aspekte. Onderskrifte en gebaretaal op televisie is maklike oplossings.”
Verder wil sy ook mense help wat nie ’n kogleêre inplanting kan bekostig nie. “Ek wil graag hê meer mense moet hierdie geskenk (’n kogleêre inplanting) ontvang.” Mia was een van die eerste kleuters in Suid-Afrika wat op die ouderdom van twee ’n kogleêre inplanting in Pretoria ontvang het, nadat sy as eenjarige omtrent geheel en al haar gehoor verloor het.
Oor die vraag of daar enige planne is om Oudtshoorn te besoek vertel sy opgewonde, “Beslis, maar ons het nog nie kans gehad om my dagboek vir die jaar vooruit te beplan nie. Oudtshoorn en sy inwoners het ’n groot rol in my lewe gespeel. Ek vertel vir joernaliste dat my ouers die plaaslike koerant, Die Hoorn vir meer as 20 jaar besit het, en hoewel hulle nou semi-afgetree is, bestuur hulle steeds die PostNet op die dorp.”
Vir Oudtshoorn en sy inwoners wil sy graag bedank vir hulle wonderlike ondersteuning. “Julle het my gehelp maak wie ek is vandag,” vertel sy.
Mia was in 2014 die eerste Oudtshoorniet wat die titel van Mej. Tuinroete & Klein Karoo gewen het en het in dieselfde jaar aan Mej. Dowe Suid-Afrika deelgeneem. Sy het in Oktober 2014 in die topvyf van die kompetisie geëindig.
Mia se ouers, Schalk en Liesel le Roux het die volgende aan Die Hoorn gesê: “Om in te skryf was Mia se besluit – sy het van die begin af in haarself geglo asook dat sy ’n verskil in ander se lewens kan maak. En ons het haar besluit ondersteun.”
“Mia is ’n besonderse mens – sy is liefdevol, nederig en vriendelik, maar sy het ook ’n sterk wil, geloof in haarself en is nie bang vir uitdagings nie. Sy glo sy kan ’n verskil maak in ander mense se lewens – spesifiek diegene wat uitgesluit is, om watter rede ook al. Ons ondersteun haar hierin en is trots op haar en dankbaar oor die mens wat ons dogter is.” (Deur Angelique Eramus)