Oudtshoorn-man kritiek na hy homself aan brand steek

Deur Angelique Erasmus
’N MAN van Oudtshoorn is tans in ’n kritieke toestand in die George Hospitaal nadat hy homself glo Maandagaand voor sy sesjarige seun aan die brand gesteek het.

Sy sesjarige seun, Dawid Ayford wat ’n kamer met sy pa deel, het volgens familielede die voorval aanskou en uitgehardloop om hulp vir sy pa te gaan ontbied.

Jonathan Thomas (45) van Onverwacht, Oudts­­hoorn het na bewering omstreeks 18:00 petrol oor homself uitgegooi en dit daarna aan die brand ge­steek.

Sy broer, Migel, het aan Die Hoorn gesê die familie vermoed Jonathan het sy eie lewe probeer neem na ’n onderonsie met ’n kleinneef vroeër die dag.

Tydens die voorval is Jonathan na bewering onder meer oor die kop geslaan.

Jonathan, ook bekend as Jan Kannetjie in die omgewing, is volgens die familie deur ’n broers­kind in ’n kombers toegerol om die vlamme te blus.

Hy is met erge brandwonde na die Oudtshoorn Hospitaal geneem is en later na die George Hospitaal oorgeplaas.

Nadia Ferreira, woordvoerder van die Wes-Kaapse Departement van Ge­sondheid, het bevestig dat ’n man met brandwonde in die George Hospitaal opgeneem is nadat hy eers by die Oudtshoorn Hospitaal behandel is. Sy het gesê hy is in ’n kritieke toestand.

Familielede sê Jonathan het reeds as kind petrol gesuig, en het juis vermoedelik die betrokke dag weer petrol gaan koop vir dié doeleindes. Dit is dan ook die petrol wat hy oor homself uitgegooi het.

Op ’n versoek van Die Hoorn vir ’n foto van Jonathan het sy vriendin van vyf jaar en ma van klein Dawid, Elsie Ayford, gesê dat hulle geen foto’s van hom het nie en dat hy sy ID-dokument jare gelede ook uitgebrand het.