Dysselsdorper in Mei weer voor vir poging tot moord en aanranding

Deur Garnett Wicomb
DIE saak teen ’n man van Dysselsdorp wat van poging tot moord en aanranding om ernstig te beseer aangekla word, is in die Oudtshoorn Streekhof vir verdere getuienis tot Meimaand uitgestel.

Die beskuldigde, Hendrik Hintza, word daarvan aangekla dat hy op 22 Augustus 2016 met ’n mes na Cheswayne Jackson gemik en hom die volgende dag in die rug gesteek het.

Hintza pleit onskuldig en voer aan dat dit eintlik Jackson is wat hom probeer aanrand het.
Jackson het getuig dat hul twee kinders die betrokke dag met mekaar baklei het en hy met Hintza daaroor wou praat.

Hintza het egter geweier. Hulle het mekaar weer die volgende dag raakgeloop en volgens Jackson het Hintza hom met ’n mes in die rug ge­steek nadat hy in ’n sloot geval het. Hy het getuig dat hy nie die mes gesien het nie.

Jackson het op ’n stadium vinnig sy T-hemp uitgetrek om die steekwond aan die hof te wys. Daar was 12 hegsteke.

Nadat hy na die beskuldigde gewys en hardop geskree het dat dit hy is wat hom gesteek het, is hy deur landdros Ntsoki Moni aangespreek om net op vrae van die staat en sy regsverteenwoordiger te ant­woord.

“Ek is hier om na beide kante van die saak te luister en ’n beslissing te maak,” het die landdros aan Jackson gesê.

Hy het Jackson versoek om kalm te bly.

Streeklanddros Ntsoki Moni het die saak na die kruisondervraging van Jackson tot 31 Mei uitge­stel en Hintza se borg en borgvoorwaardes tot dan verleng.