Vir ’n rugbyspan met spelers tussen 37 en 50 wat nog nooit saam op ’n veld geoefen het nie, om twee gunstelingspanne rugby-ore aan te sit, moet gedoen word.
Die Grootvoëls Golden Oldies-rugbyspan van die Oudtshoorn Rugbyklub is verlede naweek aangewys as die nasionale kampioene van die SANGORA (South African National Golden Oldies Rugby Assosciation) toernooi wat in Mosselbaai aangebied is.
Daar was 32 spanne van oor die land heen wat aan die toernooi deelgeneem het. Die Grootvoëls het hulle wedstryd teen die toernooi-gunstelinge, Pretoria Harlequins met 15-5 gewen. Hulle tweede wedstryd was teen nog ’n gunsteling, Paarl Boy’s High se Oldies-span. Die Grootvoëls het dié wedstryd met 15-0 gewen.
Volgens Jacques Terblanche van die Grootvoëls Golden Oldies is hulle span saamgestel uit oud-spelers van die oudste rugbyklubs in die die land, Oudtshoorn, George, Swellendam en Beaufort-Wes. Oudtshoorn Rugbyklub is in 1883 gestig en is die tweede oudste rugbyklub in die land. Die sandsteenpawiljoen by die REC is die land se oudste rugbypawiljoen.
Daar was ongeveer 1 200 rugbyspelers van 32 Oldies-klubs by die afgelope naweek se toernooi op die Jan van Riebeeck Stadion in Mosselbaai. Terblanche sê dat hulle span saamgestel is uit oud-Springbokke, oud-provinsiale spelers sowel as voormalige Super Rugby-spelers. “Ons jongste speler in die toernooi was 37 en die oudste was 50. Ons het glad nie voor die tyd geoefen nie, maar nou dat ons ons titel volgende jaar in Nelspruit moet verdedig, sal ons seker ’n plan moet maak,” skerts hy. (Deur Hannes Visser)
Be the first to comment on "Oudtshoorn Grootvoël-oldies tops op rugbyveld"