Die 17de Klein Karoo Klassique vind van Vrydag 7 tot Sondag 9 Augustus in Oudtshoorn plaas en beloof ’n uiteenlopende program van klassieke musiek, letterkunde, kuns, kos en wyn.
Volgens Hugo Theart, uitvoerende hoof en artistieke direkteur van die fees, is Klein Karoo Klassique een van sy gunstelinggeleenthede van die jaar.
“Die intimiteit van die fees en die warmte daarvan om tyd saam met jarelange feesgangers én nuwe gehore deur te bring, maak dit besonder. Voeg daarby die uitstaande kunstenaars wat hul passie vir klassieke musiek deel, en dit sorg vir die ideale winterfees,” sê hy.
Van die hoogtepunte op die program sluit die Klassique Galakonsert met die Kaapstadse Filharmoniese Orkes op Vrydag, 7 Augustus, in, asook Heimwee, ’n huldigingskonsert aan Mimi Coertse met soliste van Kaapstad Opera op Saterdag.
Die bekroonde Universiteitskoor Stellenbosch maak Sondag sy eerste verskyning by die fees, terwyl Cellissimo ook die wêreldpremière van ’n nuwe werk deur Shane Woodborne aanbied.
Literatuurliefhebbers kan uitsien na Antjie Krog se gesprek oor haar vertaling van Olive Schreiner se From Man to Man, terwyl gratis ontbytkonserte deur die Oudtshoornse pianis John Theodore en Steinway-kunstenaar Charl du Plessis ook op die program verskyn.
Volgens Gerrie Lemmer, uitvoerende hoof: kultuur by die ATKV, bied die fees veel meer as klassieke musiek.
“Dit is ’n unieke kultuurervaring waar musiek, visuele kuns, letterkunde en kos- en wynervarings bymekaarkom. Die program bied werklik iets vir elke belangstellende en dien terselfdertyd as ’n waardevolle platform vir opleiding en ontwikkeling,” sê hy.
Opleidingsgeleenthede vorm ook deel van die fees. Leerders uit die Klein Karoo kry Vrydag die geleentheid om tydens Inleiding tot die orkes, onder leiding van Richard Cock en lede van die Kaapstadse Filharmoniese Orkes, meer oor orkesmusiek en die verskillende instrumentfamilies te leer.
Anina Lundie, senior kurrikulumbeplanner vir skeppende kunste by die Wes-Kaapse Onderwysdepartement, sê sulke geleenthede bring die skoolkurrikulum tot lewe.
“Vir baie leerders is dit die eerste keer dat hulle ’n lewende orkes beleef. Wanneer hulle iets herken wat hulle in die klaskamer geleer het, is dit ‘n besonder kragtige ervaring,” sê sy.
Ná afloop van die fees word ’n spesiale werksessie vir koorleiers uit die Klein Karoo en Tuinroete op Maandag 10 Augustus deur André van der Merwe, koorleier van die Universiteitskoor Stellenbosch, aangebied.
Die fees bied ook kamermusiekuitvoerings, laataandkonserte, musiek- en boekgesprekke, historiese wandeltoere, olyfolieproeë, tee- en smaakervarings, asook wynproeë deur Die Wynmeester.
Kaartjies is beskikbaar by klassique.co.za, die KKNK-kantoor of, indien beskikbaar, by die deur voor vertonings.

Be the first to comment on "Oudtshoorn gereed vir ’n naweek van Klein Karoo Klassique"