’n Buurtspan van AfriForum het onlangs verskeie openbare parke in Oudtshoorn skoongemaak en opgeknap as deel van die organisasie se gemeenskapsinisiatiewe in die Tuinroete.
Hoewel die span in Knysna gebaseer is, ondersteun hulle gemeenskappe regoor die streek waar instandhoudingswerk benodig word.
Die projek het by die park in Draaistraat begin, waar gras en onkruid met bossiekappers verwyder en struike gesnoei is.
Daarna is daar in Middelstraat gewerk, waar gras gesny en nuwe uitloopsels aan bome verwyder is om die park meer toeganklik vir besoekers te maak.
In Keyterstraat is boomtakke gesnoei wat straatligte versper het. Volgens AfriForum behoort die werk die beligting in die park te verbeter en sodoende veiligheid te bevorder. Die projek is in Tautestraat afgesluit, waar gras en bossies ook verwyder is.
Volgens die organisasie is sowat 6 500 m² gras gedurende die drie dae lange projek gesny, terwyl talle bome ook gesnoei is.
Marthinus Erasmus, AfriForum se distriks-koördineerder vir die Suid-Kaap, sê openbare parke behoort veilige en netjiese ruimtes te wees waar inwoners en gesinne tyd saam kan deurbring.
“Wanneer owerhede versuim om basiese instandhouding te doen, tree AfriForum en ons vrywilligers in om self ‘n verskil te maak. Ons gaan nie toekyk hoe gemeenskappe agteruitgaan nie. Ons neem verantwoordelikheid en bou aan ‘n omgewing waarop inwoners trots kan wees.”
Volgens Erasmus is daar ook planne om ‘n AfriForum-buurtspan in Oudtshoorn te stig. Die doel is om gereelde instandhoudingswerk aan openbare ruimtes te doen en vinniger op plaaslike behoeftes te reageer.

Be the first to comment on "Span knap verskeie Oudtshoorn-parke op"