Internasionale toekenning vir plaaslike Karoo Rouge

Foto verskaf.

Karoo Wonderful Pomegranates se Karoo Rouge, ’n granaat-likeur wat soos ’n “port” gemaak word, het pas internasionale erkenning ontvang toe dit twee gesogte goue sterre by vanjaar se Great Taste Awards in die Verenigde Koninkryk ontvang het.

Karoo Wonderful Pomegranates, wat naby Oudtshoorn geleë is, se Karoo Rouge was een van slegs twee produkte van Suid-Afrika wat beloon is met ’n tweestergradering. Dit word deur een van Suid-Afrika se kampioenportmakers gemaak.

Die Great Taste Awards is die wêreld se grootste en mees gerespekteerde kos-en-drank-toekenning en word reeds die afgelope dertig jaar aangebied.

Die produkte word deur ’n paneel kundiges geproe, maar eers nadat alle handelsmerke, verpakking en ander kenmerkende elemente verwyder is.

Die beoordelaars, wat bestaan uit produk-ontwikkelaars, chefs, resensente, handelaars en ander kos- en drankspesialiste, moet ’n eenparige besluit neem of die produk ’n ster of enigsins ‘n toekenning verdien. Die belangrikste vir die beoordelaars is die smaak, waarna die voorkoms, tekstuur en geur.

Meer as 15 000 produkte is vanjaar ingeskryf deur 3 919 ondernemings uit 116 lande. Uit dié inskrywings het slegs 10,61% van die inskrywings (1 596) twee sterre ontvang, wat volgens die paneel “uitstaande” was.

Die beoordelaars se terugvoer oor die Karoo Rouge was dat dit ’n hoogs oorspronklike, unieke drankie is wat ook heerlik proe.
Hulle terugvoer was as volg: “Om die smaak en geur van ’n granaat te neem en dit te omskep in iets wat so oortuigend aan port herinner, is ‘n merkwaardige prestasie.

Umami, vrugtigheid en ’n perfek-gebalanseerde soetheid werk saam om ’n uitsonderlike en aangename drinkervaring te skep.”
Dié toekenning volg op goue toekennings vir die produk by beide die 2024 en 2025 Aurora International Taste Challenge en by die SA Food & Beverage Awards 2025.

Karoo Wonderful Pomegranates se ander produkte (’n granaat-reduksie, granaatsap en granaatroomys) het dubbelgoue, goue en silwer toekennings by dieselfde kompetisies ontvang. Die toekennings gee erkenning aan Karoo Wonderful Pomegranates wat daarna streef om die voorkeurhandelsmerk vir vars granate en granaatprodukte in Suid-Afrika te wees.

Karoo Wonderful Pomegranates se inskrywing is moontlik gemaak deur die UK Trade Partnerships-program (UKTP). Danksy UKTP kon Karoo Wonderful Pomegranates onder meer vroeër vanjaar hul produkte by Gulfood in Dubai aan voornemende kopers tentoonstel.

Die program bied ook ondersteuning met die ontginning van nuwe markte, bemarking en produkontwikkeling. Karoo Wonderful Pomegranates is een van minder as 10 maatskappye in SA wat in 2025 gekies is om deel van die program te wees.
Vir meer inligting oor Karoo Wonderful Pomegranates, besoek www.karoopak.co.za.

Be the first to comment on "Internasionale toekenning vir plaaslike Karoo Rouge"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*