Oudtshoorn Diereherberg goed op dreef

Ansa de Jager (regs) van die Oudtshoorn Diereherberg saam met Marina Benade, wat nuut by die organisasie aangesluit het.

Fase 1 van die hokke van die Oudtshoorn Diereherberg (ODH) by hul nuwe perseel op die Rooiheuwel pad, is goed op dreef.

In hierdie fase word daar kampe gebou om die eerste honde te kan huisves. Die beplande skuif van die diere na die nuwe perseel sal die naweek van 16 Desember begin. Hulle beplan ook ’n kersfeesboom op Vrydag, 15 Desember by die DBV se perseel en almal is natuurlik welkom om dit by te woon.

Volgens Ansa de Jager van ODH kom daar ’n kamp van 4 m x 20 m vir hul Rotwailer, wat ongelukkig te kwaai is om aan te neem. Hy gaan egter as hoof sekuriteit optree deur die nag.

Dan is daar twee kampe van 6 m x 23 m elk, wat gaan dien as die “tieners se kamers”. Die ander 7 kampe gaan rug aan rug wees met ’n betonhok in die middel. Hierdie hokke is 3 m x 3 m groot, met ’n 1 m x 4 m kampie aan. Hierin kan twee honde saam loseer.

“Die kampe gaan almal skadunet oor kry, met plate oor die hokke. Ons gaan ook bome plant en die boer wie se grond ons gebruik het gesê ons kan gras by hom kom uithaal en plant”, het De Jager aan Die Hoorn gesê.

Daar gaan ook lemmetjiesdraad buite om die perseel gesit word, en daar gaan 6 spreiligte opgesit word wat met sonpanele gaan werk.

Met fase twee beplan hulle om 40 hokke te bou, 5 in ’n ry, wat ook sal dien as huisvesting vir honde as mense op vakansie gaan. Dit sal ook ’n hok met ’n kampie met gras wees. Hierdie hokke sal ’n waardevolle bron van inkomste wees, terwyl die vakansiegangers rustig sal kan slaap oor die versorging en veiligheid van hul troeteldiere. Daar sal ook ’n hok vir katte, weg van die honde gemaak word.

De Jager vertel verder dat hulle ook ’n projek het waar besighede ’n kamp kan borg teen R2 500 per jaar. Daar word dan ’n bord van 1,2 m x 600 cm teen die hok opgesit met die besigheid se naam op.

“As ’n besigheid ’n kamp borg, gaan ons deurlopende terugvoer aan hulle gee oor die welstand van “hul honde”. Ons wil ook hê dat hulle aktief betrokke sal wees deur vir die honde te kom kuier of met hulle te stap”, vertel sy verder.

Hulle het nog veertien hokke oop wat geborg kan word. Verder doen sy graag ’n beroep op mense om enige iets, al is dit hoe klein, vir hulle te skenk om met die bouery te help.

“Ons kort veral spesifiek grys skadunet, al kan jy net 7 m skenk wat genoeg is vir een kamp. Beton mure sal ook ’n baie welkome skenking wees. En daar kort nog twee rolle draad om die kampe klaar te bou. Marina Benade, of soos De Jager haar noem, ons nuwe bloed, het ook onlangs by hulle aangesluit. Dit is vir De Jager baie belangrik dat daar iemand is wat in die verre toekoms by haar sal kan oorneem en aangaan met die ongelooflik belangrike werk om vir die diere van Oudtshoorn te sorg.