Oudtshoorn bepaal strategie teen moontlike onrus

Burgemeester Chris Macpherson praat die week met die Groter Oudtshoorn se twee koerante. Foto: Liesel le Roux

DIE Groter Oudtshoorn Munisipaliteit en ander rolspelers van die dorp het verlede week ’n stra­tegiese beplanningsessie gehou om ’n gekoördineerde strategie te bepaal indien ’n onrussituasie soos verlede week in KwaZulu-Natal en Gau­teng hier sou voorkom.

Volgens die Groter Oudtshoorn se burgemees­ter, Chris Macpherson, het die openbare onrus van verlede week talle leemtes getoon in die staat se vermoë om sulke situasies te hanteer.

“Tot dusver was die Wes-Kaap nog vreedsaam en potensiële pogings is vinnig en effektief in die kiem gesmoor. Daar was ook geen insidente in die Groter Oudtshoorn nie.”

“Ons het egter gesien hoe vinnig twee provinsies lamgelê kon word as gevolg van openbare onrus. In die Wes-Kaap het die burgemeesters en munisipale bestuurders al die afgelope aantal weke op gereelde basis strategiese beplanning­sessies saam met die premier en sy kabinet.

“Die gebeure verlede week was eintlik ’n waarskuwing aan elke dorp – wat maak ons indien dit sou oorvloei na die Wes-Kaap en Oudts­hoorn? Daarom het van die belangrikste rolspelers in die dorp verlede week bymekaar ge­kom en ’n oorhoofse strategie bepaal wat nodig sou wees indien ons gekonfronteer word met so ’n situasie. Terselfdertyd het dit ons in staat ge­stel om ’n paar risiko’s te identifiseer.”

Risiko’s is onder meer:
• Openbare onrus met gepaardgaande geweld, plundery, vandalisme, brandstigting en beska­diging van eiendom;
• Verbreking van Covid-19-regulasies;
• Ontwrigting van Covid-19-inentings;
• Taxigeweld (lae risiko);
• Grondbesetting en onwettige plakkery;
• Bedreiging van voedsel- en watersekuriteit;
• Hantering van ’n droogterampgebied;
• Verkiesingsverwante onwettige optredes soos optogte en byeenkomste.

Rolspelers wat geïdentifiseer is, sluit in die Wes-Kaapse Operasionele Beheersentrum; die Tuinroete-distrik se Gesamentlike Operasionele Beheerssentrum, Oudtshoorn se Gesamentlike Operasionele Beheerssentrum asook die SAPD, Gemeenskapspolisiëringsforums, staatsdiens-groe­perings, provinsiale verkeer, buurt- en plaas­wagte, straatkomitees, sekuriteitsfirmas, diens­organisasies soos die Rotariërs, Round Table en Vryburgers, die Besigheidskamer en besighede, landbou en toerisme, religieuse en tradisionele leiers, taxiverenigings, Eskom, en die munisipaliteit wat wetstoepassers en die verkeersdienste insluit.

Die groepe rapporteer belangrike inligting of waarskuwings na hul eie strukture se koördineerders waarna dit aan ’n sentrale nommer ge­rapporteer sal word.

Pro-aktiewe polisiëring en optredes sluit in:
• Misdaadvoorkoming en hoë sigbaarheid;
• Teenwoordigheid in sentrale sakegebied;
• Patrollies en padblokkades in “hotspots”;
• Monitering van toegangroetes;
• Beskerming van sleutelpunte;
• Monitering van vulstasies, taxistaanplekke en reservoirs.

Kommer oor baie wat nie maskers dra nie
Macpherson het sy kommer uitgespreek oor die baie inwoners in woongebiede wat nie maskers dra nie. Hy sê dit wil voorkom of sowat 90% van inwoners maskers in die sakegebied dra, maar slegs 3% wanneer hulle in ’n woonbuurt soos Bridgton rondbeweeg.

Volgens hom ry hy dikwels saans wanneer die aanklokreël begin, na woonbuurte om te kyk of mense dit gehoorsaam en spazawinkels en sjebiens gesluit is. Volgens hom het sjebiens op waarskuwings gereageer en hul deure gesluit, maar vind hy steeds spazawinkels wat oop is met mense op straat sonder maskers.

“Ons waarsku mense by winkels wat kliënte sonder maskers toelaat dat hul lisensies ingetrek sal word. Dié optrede van mense wat nie mas­kers dra nie en die virus kan versprei, raak almal.”

25 wetstoepassers by munisipaliteit
Met die hulp van die distriksraad en provinsie is 25 wetstoepassers aangestel en sal die polisie en sekuriteitsfirmas met hul opleiding help. Hulle sal uiteindelik op verskeie plekke, soos in die sakegebied en ook in De Rust en Dysselsdorp ontplooi word om te help in noodtoestande maar ook met die toepassing van bywette soos dié oor rommelstrooiing en vandalisme.

Moenie fopnuus aanstuur nie
Macpherson het inwoners versoek om nie fopnuus aan te stuur nie. As jy onseker is of nuus waar is, kan jy op die webblad africacheck.org vra of dit korrek of vals is. (Deur Liesel le Roux)

Be the first to comment on "Oudtshoorn bepaal strategie teen moontlike onrus"

Leave a comment

Your email address will not be published.


*