Phillip Venter (24). Foto verskaf
Deur Liesel le Roux
’N OUD-LEERDER van Langenhoven Gimnasium op Oudtshoorn, Phillip Venter (24), is Sondagoggend oorlede nadat hy Saterdagaand ernstig beseer is in ’n botsing in Port Elizabeth.
Phillip was die seun van lt kol Wayne en me Lynette Venter van Oudtshoorn. Hy het in Port Elizabeth by ’n firma gewerk wat onder meer DSTV-installasies doen.
Volgens Phillip se ouers was hul seun Saterdagaand in Kaapweg op pad huis toe, toe ’n Toyota Hilux-dubbelkajuitbakkie uit ’n systraat oor ’n toegeeteken gery en Phillip se Bantam-bakkie aan die voorkant getref het.
Phillip het erge borsbeserings opgedoen en is per ambulans na die Netcare Greenacres Hospitaal geneem. Hy is Sondagoggend omstreeks 02:30 oorlede, sowat vier ure ná die botsing.
Volgens lt kol Venter het twee mans op die botsingstoneel na bewering vir die Polisie gesê dat die bestuurder van die Toyota na die botsing weggehardloop het van die toneel.
Phillip se hartseer ouers het die week met groot liefde oor hul seun gepraat.
“Ek is dankbaar, want ek weet hy het ’n kort maar vol lewe gehad, asook ’n groot en positiewe invloed op mense om hom,” het sy ma gesê.
“Ons het soveel oproepe sedert Sondagoggend ontvang waarin mense vir ons vertel watter invloed hy op hul lewens gehad het. Baie van die mense ken ons nie.
“Dit maak my hart so vol. “Ek is so trots op my kind. Hy was ’n wonderlike mens.”
Sy pa het vertel sy seun was ’n veelsydige mens wat op skool in sport gepresteer het en ook baie graag kitaar gespeel het.
“Hy was ’n begaafde kind met ’n baie groot musiektalent. Hy was ook baie lief vir sy medemens.”
Phillip word oorleef deur sy ouers en ’n suster, Lyncke (21).
’n Roudiens vir hom vind Maandag om 11:00 in die NG Moederkerk op Oudtshoorn plaas.