Deur Liesel le Roux
IN die Suid-Kaap Kollege se badkamer staan ’n vrou Saterdagmiddag ná afloop van die opvoering van Faan se trein kop onderstebo en trane afvee.
’n Ander sê buite: “Ek weet nie wat ek nou voel nie. Maar dit is seer.”
Pieter Fourie se meesterwerk oor Frik en Faan Oosthuizen van die Onderdorp het soos in die sewentigs die volk weer aangegryp. Teen Saterdag was elke enkele KKNK-kaartjie vir Faan se trein met Paul Eilers in die hoofrol uitverkoop. Eilers, wat aan die einde van elke optrede staande toegejuig is, het dié ovasie verdien. Hy speel sy hart en siel tereg uit, soos ’n resensent geskryf het. ’n Ander noem sy vertolking van Faan ’n kragtoer.
Vir Eilers, wat met Faan se trein ná 17 jaar weer na die verhoog teruggekeer het, was die rol van Faan voorwaar ’n goue geleentheid. Hy het dit in ’n onderhoud met Die Hoorn vroeër vanjaar die grootste uitdaging in die 40 jaar wat hy toneel speel, genoem.
Pieter Fourie het die rol die afgelope week bestempel as seker die mees uitputtende rol vir ’n akteur in Afrikaans.
“Om dit twee keer ná mekaar binne die bestek van ’n paar uur te doen, vra byna die bomenslike van ’n akteur. Ek kan nie dink aan iemand wat dit beter as Eilers sou kon doen nie.”
Volgens hom het akteurs tou gestaan vir die rol.
Wat Eilers se vertolking soveel merkwaardiger maak, is dat hy die rol met pynpille in die hand moes aandurf nadat hy by die laaste kleedrepetisie Vrydag teen ’n werkbank op die verhoog geval en drie voortande gebreek het. Eilers moes in ’n toneel na ’n mede-akteur gryp. Sy het gegly en Eilers saam met haar van balans geruk. Die werkbank maak deel uit van die stel.
Dr John Benghiat, plaaslike tandarts wat met verlof was, het toe hy van Eilers se valslag gehoor het, dadelik ingestem om hom te opereer. Die tande is tydens ’n operasie van vier uur onder lokale verdowing geheg. Eilers het gister gesê daar word ook vermoed dat sy kakebeen in die valslag gekraak is.
Hy was Maandagmiddag die laaste keer op die verhoog en sou vandag na die kakebeen laat kyk.